NEWS | Latest news articles

As die reën wegbly, staar Suid-Afrika en sy verbruikers ernstige probleme in die gesig

  • 04 December 2015
  • 879
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  press-release



Indien dit nie gou reën nie, sal Suid-Afrika nie genoeg voedsel vir sy huishoudelike behoeftes kan produseer nie. Voedselsekerheid moet gehandhaaf kan word. Suid-Afrika bevind hom reeds in ‘n posisie van invoerpariteit in stede van uitvoerpariteit. Dit bring prysstygings mee wat die land nie kan bekostig nie.
 
Vier kundiges op die gebied van die landbou het hulle sienings en ontledings van die huidige droogtetoestande gedeel tydens ‘n spesiale Nasie in Gesprek-program op kykNET. Die program was toegespits op die droogte, die uitwerking daarvan op die boerderybedryf en die gemeenskap, die vooruitsigte op reën en wat die land te doen staan indien die droogte sou voortduur. Die vier deelnemers was Tracy Davids van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), Prof Johann Kirsten, Hoof van die Departement Landbou-ekonomie, Voorligting en Landelike Ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, Jannie de Villiers, Uitvoerende Hoofbestuurder van Graan SA, en Francois Strydom, Besturende Direkteur van Senwes.
 
Nasie In Gesprek word gelei deur Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo Capital.
Die vier deelnemers is dit eens dat die land tans die ergste droogte sedert die groot droogte van 1991-1992 beleef. Danksy die goeie oeste wat 2014 opgelewer het, kon 2015 met hoë voorraadvlakke afskop. Die prys van mielies is aanvanklik nie ernstig geraak nie, maar het gaandeweg in die loop van 2015 gestyg. Die produksie van mielies, wat die land se belangrikste stapelvoedsel is, het in 2015 gedaal van 14 miljoen ton na ietwat meer as nege miljoen ton, wat die land van uitvoerpariteit na invoerpariteit laat beweeg het. Indien dit nou goed reën, sal die mielie-opbrengs waarskynlik elf miljoen ton kan wees. Die land sal dan nog in sy eie behoeftes kan voorsien en die volume beskikbaar hê om die normale uitvoere na Afrika te handhaaf., hoewel volle uitvoerpariteit nie bereik sal kan word nie.
 
Tydens die vorige groot droogte van 1992 is vier miljoen hektaar mielies geplant, wat minder as een ton per hektaar opgelewer het. Die uitwerking van die huidige droogte sal nie so groot wees soos in 1992 nie. Tans word twee en ‘n half miljoen hektaar geplant. Tegnologie en produsentpraktyke het verbeter en groter dele is onder besproeiings. Lande onder besproeiing kan tien ton per hektaar oplewer en droëland sowat twee ton per hektaar. Dan kan ‘n nasionale oes van sewe miljoen ton verwag word, wat ver benede die normale opbrengs sal wees. Die prys sal dan na invoerpariteit beweeg. Waar uitvoerpariteit op sowat R2 000 per ton te staan kom, sal invoerpariteit meer as R3 000 per ton wees. Geelmielies is in oorvloed in die internasionale mark beskikbaar, maar witmielies is nie geredelik beskikbaar nie en daar is gewoonlik ‘n premie daarop. Die groot vraag is waar die land witmielies sal kan bekom. Meksiko, Amerika en Argentinië produseer witmielies, maar op klein skaal. Afrika produseer witmielies en Zambië is ‘n moontlike bron, maar die vervoerkoste daarvandaan is astronomies. Ander lande in Suider-Afrika soos Malawië en Zimbabwe gaan ook onder die droogte gebuk. Die druk op Zambië se voorraadvlakke sal gevolglik baie sterk wees.
 
Dit is die eerste keer dat die nuwe demokratiese regering met ‘n droogtetoestand te doen kry en beleidsaksies sal moet loods. In 1992 het die regering risikomaatreëls daargestel en waarborge vir koöperasielenings aan boere verleen. Die dereguleringsproses van 1994 tot 1996 het meegebring dat boere hul risiko’s self moes hanteer by wyse van die Safex-meganisme,, maar ook beter bestuur van grondwater en produksiepraktyk. Boere is baie meer versigtig want hulle besef die regering het nie noodplanne in werking gestel nie. Om ‘n omvattende, gekoördineerde noodplan daar te stel wat vir opkomende boere, kleinboere en groot boere voorsiening maak, sal met die regering se stram begroting geweldige druk op staatsfondse plaas.
 
Die uitwerking van ‘n droë jaar op pryse word hoofsaaklik aangedryf deur die koste van veevoer en die belangrikste voedingsprodukte soos mielies en koring. Die belangrikste illustrasie van die gevolge van droogte is die impak daarvan op gemeenskappe in landelike gebiede. Die boer het nie surpluskapitaal nie en spandeer nie meer in die plaaslike ekonomie in die vorm van nuwe masjinerie en produksie-insette vir die volgende seisoen nie. Die rimpeleffek van die droogte, indien dit sou voortduur, sal eers werklik in die jaar wat voorlê beleef word. Die landbou, wat ‘n klein deeltjie van die bruto nasionale produk uitmaak, het ‘n veel groter vermenigvuldigende uitwerking op die breër ekonomie, wat nie altyd verstaan word nie. Dit sal toon hoe belangrik die landbou vir die ekonomie is, en hoe belangrik dit is dat boere geskool en voorbereid is op droogtetoestande, want Suid-Afrika is ‘n droë land. Indien daar vir twee seisoene na mekaar nie voldoende reën is nie, sal dit geen goeie vooruitsigte vir diere en nuwe aanplantings inhou nie.
 
Die boer se balansstaat sal nadelig wees indien die waarde van sy plaas sou afneem. Hy sal nie waarborge vir lenings kan verskaf nie en dit kan tot gevolg hê dat hy nie met sy boerdery kan voortgaan nie. Die kredietkomitees van groot landboumaatskappye en banke is bekommerd want hulle sal nie slegte skulde kan hanteer nie, gegewe die groot skuldlas wat daar reeds in die ekonomie is. In 1992 het die regering die situasie gered sodat boere weer hulle besighede kon voortsit, maar dit reën nie weiding nie, Weiding moet eers kans gegun word om te herstel wanneer die reën wel kom. 
 
Die groot probleem is dat 2015 met baie lae grondvog begin het. Benewens suboptimale reën het die hoë temperature ‘n ernstige uitwerking. Daar is reeds berigte dat dit die warmste tydperk in die wêreld se geskiedenis is. Daar was wel redelike buie in beide die ooste en weste van die land. Van die boere het daarna geplant, maar grondvog het baie vinnig getransformeer na die laer vlakke en stof het spoedig uit die grond te voorskyn gekom. In die weste is die grondprofiel dieper as in die ooste. Daarom het die ooste meer en vinniger opvolgreën as die weste nodig. Boere plant nou maar die vog sak weg en in Januarie, wat tradisioneel die mid-somer droogtetyd is, sal die oes seerkry en ‘n aanmerklike afplatting van die opbrengspotensiaal van die oes tot gevolg hê.
 
Die verbruiker verkeer onder groot druk. Internasionaal is daar ‘n oorproduksie van geelmielies wat die sagtekommoditeitspryse afdwing. Die daling van die olieprys beïnvloed die mededingendheid van bio-energie teenoor fotovoltariese en windenergie. Dit beteken dat meer sagte kommoditeite in die voedselkompleks gaan terugvloei. Die effek van laer sagtekommoditeitspryse oor ‘n langer tydperk is ‘n wesenlike waarskynlikheid. Suid-Afrikaanse boere word glad nie gesubsidieer nie, en tesame met die verswakking in die rand se wisselkoers beïnvloed dit hulle winsgewendheid en mededingendheid. Boere is die klantebasis van landboubesighede, wat hulle sakebeginsels deeglik in oënskou sal moet neem. Wat hulle nou doen, sal ‘n langtermyneffek op die bestaande klantebasis hê.
 
SA Graan het ‘n spesialis aangestel om aandag aan bewaringsbewerkingspraktyke te skenk. ‘n Opname toon dat 40 persent van die land se boere reeds bewaringsbewerking toepas, soos vogbestuurspraktyke waar daar glad nie bewerking gedoen word nie, of slegs die minimum bewerking. Sojaboerdery het heelwat uitgebrei en die regering het baie gedoen om meer perskapasiteit daar te stel. Dit dien as aanmoediging vir die toepassing van wisselboumetodes. 
 
Francois Strydom maak bekend dat Senwes die inisiatief geneem het om in samewerking met die georganiseerde landbou ‘n droogterampfonds op die been te bring om boere, hulle gesinne en hulle werkers te ondersteun. Die oogmerk is om ook ander sektore te aktiveer om geld na die landbou te kanaliseer. Agri SA tree in hierdie verband as medium vir Senwes op.
 
“Op sosiale vlak word heelwat gedoen”, sê Francois. “Op die platteland wentel alles om die boerderysektor. Die rampfonds word aangewend om boere, hulle gesinne en werkers dwarsoor die land, waar hulle hul ook al bevind en ongeag wie hulle is, by te staan. Nog ‘n inisiatief van Senwes is om die beskikbaarheid van ruvoer te help koördineer. Die tekort aan ruvoer wek kommer. Selfs al begin dit more reën, is daar nie ruvoer vir diere nie. Dit kan die hele rooivleiskompleks nadelig raak. Senwes sit hand by om ruvoer van gebiede waar daar ‘n oorvloed beskikbaar is, te vervoer na gebiede waar daar ‘n tekort is. Op kommersiële vlak sal boere ook met subsidies op spesifieke produkte ondersteun word wat veral op die veesektor afgestem is.”
 
Meer inligting oor die droogterampfonds is op die webwerf beskikbaar: www.DroogteRampFonds.co.za.
 
Einde
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
 
Nasie in Gesprek in perspektief
Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.
 
“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”
 
Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.
 
Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 
 
Nasie in Gesprek-vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.
 
 





Related Articles