NEWS | Latest news articles

Beskerming van Plaaslik Vervaardigde Produkte

  • 23 November 2015
  • 848
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  press-release



Produkte van oorsprong was die sentrale tema van vandeesweek se bespreking op die landbougespreksforum, Nasie in Gesprek, wat op KykNET uitgesaai word. Die gasheer en gespreksleier is Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo. Nasie in Gesprek is ‘n platform wat geskep is om gesprekvoering te stimuleer oor kwessies wat almal raak, veral aangaande die landbou. Vandeesweek se deelnemers was Prof Johann Kirsten, Hoof van die Departement Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, en Dr Dirk Troskie, Direkteur Besigheidsbeplanning en Strategie by die Wes-Kaapse Departement Landbou.
 
Prof Kirsten verduidelik dat produkte van oorsprong, of geografiese indikatore soos dit in die literatuur bekend staan, hulle identiteit kry uit die gebied waar dit geproduseer en verwerk word. Tipiese internasionale voorbeelde is “champagne” in Frankryk, en Parmasan-kaas en Parma-ham van Parma in Italië. Die produk ontwikkel uit die kultuur en geografie van die area waarin dit verbou en verwerk word. Wyn van oorsprong is tipies die “terroir”, soos die Franse dit noem, waar die produk sy identiteit vorm uit die geologie, die klimaat, die kultuur en die mense wat die produk verwerk. Die interaksie van al hierdie komponente bied aan die produk sy unieke identiteit.
 
Dr Troskie wys op die verskille tussen ‘n handelsmerk en ‘n produk van oorsprong. ‘n Handelsmerk is die eiendom van een persoon of liggaam wat self kan besluit wat hulle daarmee wil doen of daaraan wil verander. ‘n Produk van oorsprong kan nie verander word nie want dit word nie deur een persoon of liggaam besit nie.
 
Prof Kirsten voeg by dat dit gaan oor intellektuele eiendom wat óf in privaat besit is in die vorm van ‘n handelsmerk of produk wat iemand self geïnnoveer en daargestel het, óf in volksbesit is en die nasie identifiseer. Laasgenoemde kan nie deur iemand vir homself toegeëien word nie. Die beskerming van daardie soort intellektuele eiendom het ander meganismes nodig. Dit is waar die staat ‘n rol speel.
 
Hy wys daarop dat daar ekonomiese voordeel verbonde is aan produkte van oorsprong. Omdat dit intellektuele eiendom is wat aan ‘n groep boere of ‘n gemeenskap verbonde is, sal hulle dit uniek wil bemark en uit die kommoditeitsomgewing verwyder. As die produk se identiteit beskerm word deur ‘n tradisie, kultuur en reputasie wat daaraan gekoppel is, kan dit teen ‘n premie bemark word. Omdat dit ekonomiese voordele bied, sal daar mense wees wat dit sal wil uitbuit om hulself te verryk sonder om die oorsprong te bevestig. Die beskerming van die produk se naam teen misbruik is ‘n fundamentele beginsel en deel van die proses om ‘n rendement as ‘n besigheid te verkry.
 
Dr Troskie verwys na roosterbrood as voorbeeld, waar niemand sal weet waar die koring vandaan kom waarmee die brood gebak is nie. Dit is ‘n kommoditeit wat prysgedrewe met die goedkoopste beskikbare bestanddele geproduseer word. Dit maak dit moeilik vir boere want hulle is in die omgewing waar hulle prysnemers is. Naspoorbaarheid is ‘n uitdaging in Suid-Afrika, hoewel produkte wat op die uitvoermark gerig is, se naspoorbaarheid goed gevestig is. ‘n Mens kan byvoorbeeld in Sainsbury’s in Brittanje ‘n kas appels se hele geskiedenis en herkoms naspoor deur die staafkode op die kas in te lees. Dit is ongelukkig nie met alle produkte die geval nie. 
 
Prof Kirsten meld dat naspoorbaarheid in die vleisbedryf goed gevestig is. In ‘n goeie, gesertifiseerde abattoir sal elke karkas sy eie kode hê. In die verwerkingsproses word volledige besonderhede van die dier en die plaas van oorsprong bygehou totdat dit aan die slagter gelewer word. Naspoorbaarheid is ‘n kernelement in die oorsprongdefiniëring van ‘n produk. In die geval van Rooibos en Heuningbos is dit redelik maklik want dit kan net in Suid-Afrika geproduseer kan word. Lamsvleis kan uit enige deel van Suid-Afrika of die wêreld kom. In die vleisbedryf is ‘n veel meer gesofistikeerde bemarkingsproses nodig sodat die verbruiker kan weet waar sy produk vandaan kom. Die verskaffers van Angus-bief het hul naam reeds goed gevestig en probeer die Angus-geen na die kleinhandel deurvoer. Japan het sy Wagyu-ras wat op dieselfde wyse in ‘n hele paar lande beskerm word. In die definiëring van oorsprong is dit reeds moeilik om geografiese begrensing te bepaal. Om diere en diererasse as produkte van oorsprong te vestig, is nog moeiliker, want ‘n mens moet verseker dat dit wel daardie dier of ras is en toetse doen om die dier se gene te bevestig. Verskillende gesofistikeerde prosesse word in die chemiese en genetiese bedryf nagevors oor die moontlikheid om toetse uit die produk op die rak te doen. Dan kan bepaal word of die genetiese samestelling ooreenstem met die dier se ras, en of die chemiese samestelling ooreenkom met die geologie en plantegroei van die gebied waar die dier gewei het. Daar word allerhande aansprake ten opsigte van produkte gemaak as sou dit skrophoender, veldbees, voerkraalbees of Karoo-lam sou wees, want die produk se identiteit is vasgevang in die plantegroei of voedingsamestelling. Dit gaan oor ‘n beskermingproses om te verhoed dat ander dit misbruik om hulself te verryk as dit nie werklik die produk is nie. In hierdie opsig is eerlikheid ‘n kwessie in Suid-Afrika. Benewens naspoorbaarheid gaan dit ook oor moraliteit en integriteit in die handel om die verbruiker in alle eerlikheid te kan meedeel dat dit ‘n produk is waarop hy trots kan wees, dit is tipies Suid-Afrikaans en dit is volksbesit.
 
Dr Troskie meld dat daar verskeie maniere is waarop ‘n produk gedifferensieer kan word, byvoorbeeld handelsmerkverpakking, raseienskappe, en metodes soos organiese produksie. By produkte van oorsprong is daar ‘n skakel met ‘n spesifieke area. Dit is ‘n reeks meganismes wat aangewend kan word om die produk vry te maak van afwaartse prysdruk.
 
Daar is ‘n hele klomp eienskappe wat te doen het met kultuur, geskiedenis, omgewing en tradisie wat saam ‘n fondasie vir ‘n reeks produkte kan skep. Die verskillende produkte ondersteun mekaar en bou saam ‘n groter omgewing. Tipies Suid-Afrikaanse landbouprodukte wat aan die vereistes van ‘n produk van oorsprong sou kon voldoen, is Weskus-snoek, Boland-waterblommetjies, Suid-Afrikaanse olyfolie en Kaapse brandewyn. Benewens sy bekende rooibosproduk met sy kwaliteitsreputasie bied Wuppertal ook ander moontlikhede soos Wuppertal-velskoene. Die toeristebedryf bied ook stroomaf-moontlikhede. Die wildlewe in Suid-Afrika is ‘n groot aantrekkingskrag. Oral vind ‘n mens padstalletjies wat handwerkkuns en houtsneewerk van die dierelewe te koop aanbied, maar ‘n mens het nie die versekering dat dit Suid-Afrikaanse handwerk is nie. Dit is dalk elders in die buiteland gemaak en ingevoer. Dit bied potensiaal om werkgeleenthede en produkte van oorsprong vir die omgewing se mense te skep wat maklik deur die vingers kan glip indien dit nie ontgin word nie. 
 
Prof Kirsten sê die eerste vraag wat ‘n mens moet vra, is wat die reputasie van die produk is, en waarmee die verbruiker die produk sal assosieer. Dit kan sy reiservarings wees, of hy kan spesiaal na ‘n gebied reis om die produk daar te gaan geniet. Om ‘n produk soos snoek of waterblommetjies te differensieer, moet ‘n mens die produk en sy gebied kan afkamp en sy reputasie kan gebruik om hom in die mark te identifiseer sodat die verbruiker dit op ‘n spesiale wyse kan ervaar. Die reputasiedimensie is die krities onderliggende proses in die identifisering van ‘n produk. Die waarde van ‘n produk lê in sy reputasie. As hy nie ‘n reputasie het nie, kan hy nie waarde ontsluit nie en maak hy bloot deel uit van die kommoditeitsmark.
 
Daar is nie spesifieke wetgewing in Suid-Afrika waarvolgens die identifiseringsproses van produkte van oorsprong bestuur kan word nie. ‘n Mens moet van ‘n aantal ander bestaande wette gebruik maak, soos die Wet op Handelsmerke en die Wet op Landbouprodukstandaarde, wat ‘n klousule oor spesifieke produkte bevat. Eerstens, wat reputasie betref, moet ‘n mens bepaal wat dit is wat die produk anders maak. Dan moet die produk beskerm kan word by wyse van regulasies onder bepaalde wetgewing om die nodige staatsbeskerming te bied wat sal verhoed dat ander die produk misbruik. Dit moet byvoorbeeld kan verhoed dat iemand ‘n Bonsmara of Hereford as Angus-bief bemark. Daar moet verskillende wetlik afdwingbare maatreëls en polisiëringsmeganismes wees om te verhoed dat iemand die toegevoegde waarde van die produk vir homself toeëien en dat verbruikers dit naderhand as ‘n foefie beskou. Dit behels ‘n ingewikkelde proses van wetlike beskerming, bemarking en bewusmaking. ‘n Mens moet oor ‘n hele paar hekkies kom, van die beskerming van intellektuele eiendom met ‘n sertifiseringsmerk van die Department Handel en Nywerheid, tot ‘n reeks regulasies onder die Wet op Landbouprodukstandaarde. Daar lê nog ‘n lang proses voor om dit ten volle te kan formuleer, maar met produksieprotokolle en prosesse is dit al redelik vasgevang. Nou kan ‘n mens die kêrel wat Karoo-lam uit sy motorhuis verkoop, onder skoot kry om te bevestig dat hy die produk werklik uit die Karoo gekry het en dat hy dit met eerlikheid en opregtheid aan sy kliënte verkoop sonder om vals aansprake oor die oorsprong daarvan te maak.
 
Dr Troskie is van mening dat, aangesien die produk van oorsprong nie as ‘n handelsmerk verkoop kan word nie, daar ‘n liggaam in die betrokke area moet wees wat rentmeesterskap oor die produk aanvaar en dit bestuur en beskerm. Nog ‘n element is die storie wat om die produk verweef moet wees wat ‘n warm gevoel by die verbruiker ontketen sodat hy bereid is om ‘n premie op die storie te plaas.
 
Einde
 
 
Die volledige program kan op YouTube gevolg word:
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
 
Nasie in Gesprek in perspektief
Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.
 
“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”
 
Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.
 
Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 
 
Nasie in Gesprek-vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.
 
 





Related Articles