NEWS | Latest news articles

Bestuur van menslike hulpbronne en die ontwikkeling van nuwe produsente

  • 06 November 2015
  • 922
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nuus



Opleiding en mentorskap van nuwe produsente, en die gedeelde verantwoordelikheid van landboumaatskappye, die regering en kommersiële produsente om opkomende produsente te help om die produksiegaping tussen klein- en grootprodusente in die volgende vyf na tien jaar te verklein, was die sentrale temas van vandeesweek se besprekings op die landbougespreksforum, Nasie in Gesprek, wat op KykNET uitgesaai word. Die gasheer en gespreksleier is Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo.
Vandeesweek se deelnemers was Mulco Manyama, Belanghebbende Verhoudingsdirekteur by AFGRI, en Henco de Jager, Assistent Hoofbestuurder Menslike Hulpbronne by Senwes.
 
Mulco Manyama is van mening dat die transformasie van die landbousektor almal se verantwoordelikheid is. Sy eie rol, sê hy, is om toe te sien dat die regering, produsente en AFGRI, asook vakbonde, as een span saamwerk. Opkomende produsente beskik nie altyd oor die nodige vaardighede om die boerderybedryf te betree nie. AFGRI het ‘n deurdagte besluit geneem om nie net toe te sien dat kommersiële produsente al die nodige bystand en aandag kry nie, maar om ook seker te maak dat daar na die kleiner produsente, wat hoofsaaklik swart is, omgesien word. Gevolglik het AFGRI verskillende sentrums opgerig waar nuwe produsente opleiding en mentorskap ontvang.
 
Henco de Jager sê Senwes het eweneens ‘n spesifieke mentorskapprogram wat die nuwe produsent en die vrywillige mentor bymekaarbring om die nuwe produsent so suksesvol moontlik te maak om met die kommersiële produsent te kompeteer. Sukses lê daarin om die nuwe produsent te help om die deel van sy grond wat hoë potensiaal het, te identifiseer, en daarmee saam ook tegniese ondersteuning en finansiering om te help met insetmiddele. Die mentorskapmodel wat gebruik word, speel ook ‘n groot rol. Sukses lê in die een-tot-een situasie, wat dit makliker maak as vir een produsent wat ‘n hele groep produsente op een plaas moet hanteer. 
 
Daar is ‘n nuwe volwassenheid in die verhouding tussen die produsent as eienaar en sy werknemers op die plaas, nie net binne die raamwerk van die volhoubaarheid van die besigheid en wins nie, maar ook die werknemers se besef van die volhoubaarheid van werkgeleenthede. Dit noop beide partye om te kyk na ontwikkeling, die oordrag van vaardighede en veral ook bewuswording van nuwe tegnologieë.
 
Om die produksiegaping tussen kleinprodusente en kommersiële produsente te vernou, sê Mulco Manyama, lyk dalk maklik, maar dit is nie so maklik nie. AFGRI het bepaal dat die kleinskaalse, opkomende produsente sowat een ton per hektaar kan produseer, terwyl kommersiële produsente se opbrengs tien ton of meer per hektaar is. “Om die gaping te oorbrug, moet ons die opkomende produsent help met die nodige insette, opleiding en meganisasie en hulle bekendstel aan die wêreld van landboutegnologie. Dit sal hulle help om meer te produseer en te kompeteer sonder om noodwendig meer grond te bekom.  Ons moedig produsente nou ook aan, en ek sluit myself en ons lynbestuur daarby in, om meer gereeld met hulle werkers gesprek te voer oor produktiwiteit en enige kwessie wat die plaas raak, nie net tydens loononderhandelings nie maar deurlopend deur die jaar. Dit sal help om potensiële stakings en onderbrekings te voorkom. Indien die verhouding tussen die produsent en sy werknemers gesond is, sal dit enige moontlike negatiewe uitwerkings grootliks uitskakel.”
 
Theo Vorster wys daarop dat die plaas ‘n gemeenskapsbate moet wees, met ‘n noue verhouding en gesamentlike doelwitte tussen die plaaseienaar en die plaaswerkers. Die plaas moet ‘n bate wees vir die eienaar maar ook vir die werknemers wat ‘n loopbaan daaruit kan bou, wat hulle kinders skoolopleiding kan bied, en wat infrastruktuur en die omgewing waarbinne die plaas aktief is, kan help onderhou. As hierdie elemente in balans is, gaan die plaas oor die langtermyn ‘n bate vir almal word.
 
Henco de Jager is dit eens dat dit belangrik is om deurlopend te kommunikeer en op te lei, werknemers se behoeftes te verstaan, en ook vir die plaasbestuur om sy gemeenskap daarbuite te ken want dit is sy mark. Opleiding, die mark daarbuite en die produksie-eenheid is alles geïntegreer. Senwes se hulpbronbestuur poog om goeie verhoudings met almal te handhaaf. Dit is noodsaaklik om proaktief te kommunikeer en seker te maak dat die werkers die besigheid verstaan, maar ook wat die ekonomiese realiteite is wat die maatskappy in die gesig staar.
 
Mulco Manyama stem saam dat die verhouding tussen produsente en die meeste landboumaatskappye goed is, hoewel almal harder daaraan kan werk. “Daar is steeds sekere vakbonde wat plaaswerkers wil uitbuit” sê hy. “Dit is ons taak om seker te maak dat werknemers die verskillende rolle van die werkgewer en die landboumaatskappy en ook hulle eie rol verstaan, en om die werknemers op ‘n positiewe wyse met hulle lewensomstandighede te help. Ons is gevolglik gereeld in gesprek met die vakbonde, en nie net oor salariskwessies nie. Ons sal byvoorbeeld bloot die telefoon optel en ‘n vergadering reël om oor algemene werksaamhede op die plaas te gesels.”
 
Henco de Jager is ook van mening dat die verhouding tussen die produsent en die vakbonde beslis verbeter het. Die produsent sien nie meer die vakbondamptenaar as ‘n bedreiging nie en benader hom eerder as iemand wat hom kan help om sy besigheid uit te brei. Arbeidskonflik van die verlede het dalk gehelp om meer realisme tot stand te bring.  Daarenteen is daar die huidige situasie binne Cosatu met verskillende vakbonde wat daaraan behoort, en daar is ‘n klompie kleiner vakbonde wat opportunisties is. ‘n Mens moet sensitief bly dat daar nog steeds uitbuiting van werknemers kan plaasvind. Die nuwe produsent sowel as die kommersiële produsent moet steeds daarop bedag wees.
 
Beide De Jager en Manyama wys daarop dat daar heelwat suksesverhale in die landbou is. Afgesien van die opleiding- en mentorskapprogramme is daar hulp van regeringskant wat goeie grond met beter potensiaal aan nuwe produsente beskikbaar stel. By Senwes word die nuwe produsent ontwikkel met die oog op ‘n volhoubare besigheid met volhoubare wins, gepaard met tegniese ondersteuning en hulp ten opsigte van finansiering. Dan is daar ook ‘n hele paar aspekte wat die sosiale omstandighede van die protégé en sy gesin raak. Die produsent met sy hele gesin is by die mentorskap betrokke.
 
Ongelukkig is die publiek nie bewus van die suksesverhale nie. Die indruk bestaan dat landboumaatskappye soos Senwes en AFGRI net na die belange van groot kommersiële produsente omsien. Landboumaatskappye werk ten nouste met die staat en veral provinsiale regerings saam om hulle met die ontwikkeling van opkomende produsente by te staan. Dit geskied by wyse van vaardigheidsontwikkeling, en voorsiening van kapasiteit en kennis sodat hulle verstaan waaroor boerdery gaan. Nuwe produsente word ook gehelp om die nodige insette en masjienerie te bekom. Daar word voorts ook gekyk hoe die gemeenskap rondom die produsent bygestaan kan word. AFGRI het byvoorbeeld twee skole tot stand gebring en betaal ook vir sommige onderwysers. Die formele landbousektor doen inderdaad sy bes, maar kan ook meer met die onderskeie gemeenskappe kommunikeer en hulle insette bekom oor wyses waarop die gemeenskap bygestaan kan word.
 
Henco de Jager is van mening dat daar nie genoeg nuwe produsente in die landbousektor is nie vanweë ‘n tekort aan grond en infrastruktuur, asook bepaalde sosiale omstandighede soos gebrek aan munisipale dienslewering. Daar is beslis ruimte vir verbetering. Dit sal verg dat landboubesighede, die regering en georganiseerde arbeid saam ‘n oplossing vind om meer nuwe produsente na die landbousektor te lok.
 
Mulco Manyama sê in die Suid-Afrikaanse konteks kan meganisasie in beginsel beteken dat minder werkers nodig is. Terselfdertyd is daar meer produsente wat die landbousektor betree wat met die nodige ondersteuning weer op hulle beurt meer werkers in diens sal kan neem. Al vind meganisasie plaas, is daar steeds ruimte vir indiensneming van meer werkers. Die regering kan ook meer mense in diens neem om hulle ondersteuningsprogramme vir nuwe produsente te help bedryf.
 
Beide deelnemers sien ‘n positiewe toekoms in die boerderygemeenskap. Die suksesverhaal van die nuwe produsent, met die opleiding en investering wat daarmee gepaard gaan, moet wyer verkondig word. Die grondrestitusieprogram het dusver positiewe sowel as negatiewe resultate opgelewer. Aan die negatiewe kant kon sommige gemeenskappe aan wie grond toegeken is, dit nie produktief benut nie in weerwil van al die finansiële en ander hulp wat die regering toenemend voorsien het. Die positiewe aspek is dat daar nou meer produsente is wat in die landbou betrokke is, al is dit produksiegewys nog nie goed genoeg nie. Die landbousektor en die regering het die probleem nou geïdentifiseer. In die volgende vyf na tien jaar sal ware transformasie plaasvind waar opkomende produsente tot kommersiële vlak sal vorder. 
 
"Daar is uitdagings wat voorlê, hetsy finansiering, grondpotensiaal of die ekonomie daarbuite. Landbou moet as ‘n loopbaan vir die opkomende produsente bemark word. Sonder landbou kan ons nie eet nie. As almal hande vat en saamwerk, lê ‘n blink toekoms voor."
 
Einde

Die volledige program kan op YouTube gevolg word:
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
www.nationinconversation.co.za 
 
Nasie in Gesprek in perspektief
Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.
 
“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële produsente, staatsamptenare en die regering.”
 
Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.
 
Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 
 
Nasie in Gesprek-vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.





Related Articles