NEWS | Latest news articles

Die verhouding tussen produsente en kleinhandelaars

  • 21 December 2015
  • 923
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nasieingesprek



In Suid-Afrika word voedsel grootliks deur ‘n handjievol kleinhandelaargroepe verkoop. Dit kan op verskillende wyses ‘n invloed op verbruikers, die voedselwaardeketting en produsente hê.
 
Dawie Roodt, Hoofekonoom van Efficient Group, is van mening dat dit nie noodwendig òf goed òf sleg is dat daar in Suid-Afrika ‘n relatief klein groep handelaars is wat die grootste deel van die mark domineer nie. Die makro-ekonomiese prent toon dat Suid-Afrikaners goeie verbruikers is maar nie goeie produsente nie, soos dit uit die tekort op die lopende rekening blyk. Dit dui nie noodwendig net op voedselverbruik nie. Hy sê een goeie gevolg wat ‘n paar kleinhandelaars meebring, is dat hulle ekonomie van skaal kan gebruik. Dit beteken nie noodwendig dat hulle die verbruiker kan uitbuit en hoë pryse op hom afdwing nie. Sou hulle dit doen, sal daar sal altyd iewers ‘n ander groot kleinhandelaar wees wat die mark wil betree. ‘n Voorbeeld hiervan is Walmart wat hom in Suid-Afrika gevestig het.”
 
Prof Ferdi Meyer, Direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), wys op tendensverskille tussen die produsenteprys en die kleinhandelsprys. Die mees tasbare maatstaf is wat die boer uit ‘n liter melk verdien of wat sy aandeel in ‘n brood is. Hy sê ‘n mens moet kyk na die aard van die produk wat aan die waardeketting gekoppel is. Hoe meer dienste en verwerking met ‘n produk gepaard gaan, hoe verder raak die produsent verwyder van die finale produk wat op die rak verskyn. Met ‘n basiese produk soos mieliemeel waarop daar minder verwerking is, kan die boer se aandeel tussen 40 en 50 persent van die kleinhandelswaarde wees. Met ‘n hoëwaardeproduk soos kaas word die boer se aandeel baie klein. “Inflasie moet ook in ag geneem word. Die afgelope vyf jaar was die inflasie op die verbruikersprysindeks 32 persent, op kos 38 persent en op die energiekomponent 66 persent, wat op sigself ‘n verhaal vertel.”
 
Prof Meyer en Dawie Roodt het deelgeneem aan die weeklikse gespreksforum, Nasie in Gesprek, wat op kykNet uitgesaai word. Die gespreksleier is Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo Capital. Nasie in Gesprek is ‘n platform wat geskep is om gesprekvoering te stimuleer oor kwessies aangaande die landbou wat almal raak.
 
Dawie Roodt meld dat vanweë al die vereistes en regulasies waaraan ondernemings moet voldoen, dit makliker vir ‘n groot besigheid is om sake in Suid-Afrika te doen. Dit is vir die verbruiker beter om ‘n paar groter kleinhandelaars te hê, maar dit beteken nie dat daar nie plek is vir die kleiner handelaar nie. Regulasies en vereistes soos gesondheidstandaarde dra by tot die koste van die produk.
 
Prof Meyer beaam dat skaalekonomie vir ‘n kleinhandelaar baie belangrik is, want hy moet altyd voorraad beskikbaar hê. Kleinhandelaars moet ook die internasionale mark ondersoek om te kyk waar hulle kos die goedkoopste kan aanskaf en hulle moet die kapasiteit hê om dit te kan doen. Die kleinhandelaar het self ook vereistes soos gehalte en sekerheid waaraan die produsent moet voldoen. Die druk wat op die kleinhandelaar geplaas word om produksekerheid te verskaf, word ook na die produsent oorgedra. Die produsent moet oor die kapasiteit beskik om sy produk kontinue te lewer. Hoe groter en meer divers die produsent word, byvoorbeeld in die geval van groter koöperatiewe boere en boeregroepe, hoe meer kan hy geografies begin diversifiseer. Hulle produseer nie net in een gebied nie, maar dwarsoor die land om ‘n kontinue vloei van produkte te kan lewer.
 
Prof Meyer voeg by dat die kosteverskil tussen produsent en kleinhandelaar in Afrika baie hoër is, byvoorbeeld in Lusaka waar heelwat Suid-Afrikaanse kleinhandelaars in winkelsentrums teenwoordig is. Hoe meer mense die produk verlang, hoe meer koste-effektief kan dit verskaf word. As dit vir ‘n klein hoeveelheid mense gedoen moet word, raak die produk baie duur. Dit hang ook grootliks af of die produk internasionaal verhandel kan word, maklik verskuif kan word, dit bederfbaar is en ‘n koue ketting het. Die aard van die produk bepaal die struktuur van die voedselketting en die prysbepaling binne die ketting. Vir ‘n lywige produk wat in ‘n koue ketting is en vinnig verskuif moet word, sal prysbepaling tipies by wyse van direkte kontraktering tussen kleinhandelaar en boer geskied. Dit staan bekend as vertikale integrasie. Hoe nouer die verhouding tussen boer en kleinhandelaar, hoe meer sal die kleinhandelaar ‘n koste-plus benadering volg. Hy bied aan die boer as sy kontrakteur ‘n prys aan wat sy produksiekoste dek, en voeg daarby ‘n “fair return” marge wat die boer op sy kapitaal verdien. Daar is ‘n wye reeks waardekettings waar daar baie sterk internasionale invloed en transmissie teenwoordig is en wat internasionaal kan meeding. Daar is nietemin nog ‘n rol vir ‘n varsproduktemark vir ‘n spesifieke segment van verbruikers wat ‘n ander tipe produk wil hê. Dit is byvoorbeeld die spazas, die meer informele produktemark wat sy voorraad op die varsproduktemark se vloer gaan koop.
 
Dawie Roodt meld dat namate die verbruiker se inkomste styg, sy samestelling verander. Kos word relatief minder belangrik en luukse artikels, byvoorbeeld slimfone, word belangriker. “Wanneer ‘n mens praat van ‘n paar kleinhandelaars wat die mark domineer, of dit nou kos of selfone is, is daar altyd ‘n paar ideologies gelaaide individue of politici wat op en af spring oor samespanning en anti-kompetering. Elke ding wat elke maatskappy altyd doen, is anti-kompeterend van aard. Die blote feit dat ‘n maatskappy adverteer, is anti-kompeterend van aard. Daar word heeltemal te veel hooi op die Mededingingskommissie se vurk geplaas. In baie gevalle is die Kommissie besig om kompetisie te smoor omdat mense bang is om met mededingers te gesels want netnou word jy aangekla van samespannende optrede. Ons moet van onnodige regulasies ontslae raak, minder klem op sogenaamde anti-kompetering of samespanning plaas en meer vertroue in die vrye mark hê.”
 
Theo Vorster merk op dat daar kleinhandelaars is wat op grond van prys of gehalte kompeteer, maar hoe hoër ‘n mens in die waardeketting op beweeg, hoe groter word die vereistes van die verbruiker om presies te weet wat hy koop en waar dit vandaan kom.
Prof Meyer stem saam dat Suid-Afrika nie uniek in hierdie verband is nie. Analiste wat verbruikerspatrone bestudeer, is van mening dat Suid-Afrika tien jaar agter ‘n mark soos Engeland is. Verbruikersgetalle en ekonomiese groeikoers is bepalende faktore. Kleinhandelaars moet aanpas by die marksegment wat hulle bedien. In Sandton met sy digte bevolking sal die kleinhandelaar se blootstelling en dienste wat hy aanbied, anders wees as in ‘n ander omgewing. In die volgende tien jaar sal dit in ‘n groot mate afhang van hoe die aard van die bevolking en inkomste verander, byvoorbeeld hoeveel mense na ‘n hoër inkomste kategorie beweeg en hulle verbruikerspatrone begin verander. Kos maak dan ‘n al hoe kleiner deel van totale besteding uit.
 
Dawie Roodt voeg by dat demografiese veranderinge ‘n geweldige groot impak op die kleinhandelsegment het. Die uitleg van ‘n kleinhandelwinkel waar verbruikers self tussen die rakke kon deurloop en hulle produkte kies, het al in die 1920’s in Amerika begin. Dit het eers teen 1970 in Suid-Afrika begin posvat. Dit was ‘n nuwigheid maar die maatskappy wat daarmee begin het, het toe dinge verkeerd begin doen. Waar hulle op daardie stadium ‘n paar duisend winkels gehad het, het hulle vandag net twee- of driehonderd. Dieselfde het in Suid-Afrika gebeur. Daar was groot handelaars soos OK Bazaars wat een van die groot, dominante maatskappye was, maar toe van die toneel verdwyn het en groepe soos Pick ‘n Pay sy plek in die mark begin inneem het. Dit sal altyd die geval wees as die kleinhandelaar nie voortdurend aanpas by die smake en grille van die verbruiker nie. Hy sal sy mag verloor en dit aan ‘n ander maatskappy afstaan. Die vrees wat baie mense het dat die wêreld eendag oorgeneem gaan word deur ‘n Walmart of een of ander groep, sal nie gebeur nie. Wie ook al daardie besigheid bestuur, gaan êrens ‘n fout maak.
 
Dawie Roodt sê nog ‘n groot verandering is die tendens dat na gelang mense ouer en ryker word, hulle verbruikerspatrone verander. Vroeër was sigarette ‘n belangrike uitgawe-item vir baie mense, maar hulle het begin ophou rook. Vandag spandeer hulle liewer geld op “free range” hoendereiers (skrophoendereiers) want hulle is bereid om ‘n premie daarvoor te betaal. Die verbruiker se smaak en modebewustheid verander ook. As die kleinhandelaar nie presies op die hoogte bly van hoe sy kliënt verander en daarby aanpas nie, sal daar iemand anders wees wat sy plek gaan inneem.
 
Prof Meyer meld dat kleinhandelaars nou ook die terrein van sensitiewe debatte betree wat hulle ook in hulle bemarking aanwend. Maatskaplike verantwoordelikheid word al hoe belangriker. ‘n Goeie voorbeeld is die kwessie van waterbesparing en skoon, veilige water. Almal is bewus van die belangrikheid van water en toegang tot water. In die toekoms sal daar groter druk op kleinhandelaars en ook multi-nasionale maatskappye wees om verantwoordelik in ‘n land op te tree en ‘n bydrae tot die beskerming van hulpbronne te lewer. Maatskappye kan ‘n positiewe rol speel deur in ‘n wye reeks aspekte te herinvesteer om hulle maatskaplike verantwoordelikheid te demonstreer.
 
Dawie Roodt sê die wêreld beleef ‘n tegnologiese nywerheidsrevolusie. Dit gaan nie meer noodwendig oor massaproduksie nie, maar produksie wat individueel georiënteerd is. Dit kan die verbruiker en die produsent baie meer regstreeks met mekaar in verbinding bring. Toegang tot die internet waar verbruikers maklik inligting oor die werklike waarde van produkte kan bekom, gaan groot druk op kleinhandelaars plaas om hulle winsmarges laag te hou. Nog ‘n verandering is die wyse waarop verbruikers hulle aankope doen, veral wat aflewering betref. In stede daarvan om self winkel toe te ry en sy inkopies in sy motor te laai, kan die verbruiker sy produk met sy eie vereistes bestel en dit word by sy voordeur afgelewer. Slim yskaste is ook dalk op pad wat self melk bestel as dit min begin raak en dit word met ‘n hommeltuig by die huis afgelewer!
 
Einde
 
Die volledige program kan op YouTube gevolg word:
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
 
 

Nasie in Gesprek in perspektief

Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.
 
“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”
 
Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.
 
Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 
 
Nasie in Gesprek-vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.
 





Related Articles