NEWS | Latest news articles

Die voedselwaardeketting is kompleks en vol risiko’s, maar dit plaas kos op die tafel

  • 17 November 2015
  • 850
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nuus



Die voedselwaardeketting, die kompleksiteit daarvan, die risiko’s wat daaraan verbonde is en waarom dit belangrik is om ‘n effektiewe voedselketting te hê wat kos op die verbruiker se tafel kan sit, was die sentrale tema van vandeesweek se bespreking op die landbougespreksforum, Nasie in Gesprek, wat op KykNET uitgesaai word. Die gasheer en gespreksleier is Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo.
 
Vandeesweek se deelnemers was Jannie de Villiers, Uitvoerende Hoofbestuurder van Graan SA, en Dr John Purchase, Uitvoerende Hoof van Agbiz.
 
Jannie de Villiers meld ter aanvang dat die verbruiker die krag is wat die voedselketting trek. Dit is hy wat bepaal wat hy wil hê, hoe dit moet lyk en hoeveel dit moet kos. Hy wil kwaliteit en voedselsekerheid hê. Die tipiese waardeketting in die graanbedryf behels ‘n verskeidenheid insetverskaffers wat die boer bystaan met saad, kunsmis, chemikalieë, brandstof en meganisasie sodat hy kos uit die grond kan produseer. Die produk gaan dan weer verder langs die voedselketting af na die bergingsbedryf, vervoerstelsels, logistiek en voedselverwerkers wat dan die finale produk verskaf wat via die kleinhandel by die verbruiker uitkom.
 
“Ons het ou Oom Fanie in die bakkerybedryf gehad", sê hy, "wat altyd gesê het 'n ketting werk net as jy hom trek. As jy hom stoot, gee dit net ‘n gemors af.”
Dr John Purchase sê daar is kompetisie maar ook samewerking in die voedselwaardeketting. Daar is verskeie industrieforums waar kwessies in die voedselketting bespreek word om dit so glad en billik moontlik te laat werk. Daar moet billike waardetoevoeging maar ook billike waardeverkryging wees sodat dit winste kan skep. Die kritiese element is om produktief in die waardeketting te wees om met internasionale waardekettings te kan meeding sodat kos nie ingevoer hoef te word nie maar plaaslik geproduseer word.
 
“Oor die algemeen is ons waardeketting baie mededingend, behalwe in die geval van byvoorbeeld koring en rys. Ons produseer glad nie rys nie en ook te min koring vir die plaaslike mark. Vrugte, wyn en mielies is tipiese voorbeelde van ons mededingende landboubedryf waar ons produkte internasionaal kan bemark teen ‘n prys wat steeds winsgewend is. Ons streef na uitvoerpariteit wat bekostigbare plaaslike voedsel vir die verbruiker sal beteken. Die regering beweer dat ons kos te duur is, maar in vergelyking met kospryse in Afrika, Europa, Amerika en ander ontwikkelde lande is ons kos van die goedkoopste in die wêreld. Verskillende internasionale studies toon dat ons ‘n baie goeie landbouvoedselwaardeketting het wat met die bestes in die wêreld vergelyk. Dit moet net nie met verkeerde regeringsbesluite opgedaan gemaak word nie."
 
Jannie de Villiers voeg by dat die waardeketting onder druk kan kom, maar die privaat sektor met sy winsmotief het die vermoë om altyd ‘n uitweg te vind. As ‘n probleem opduik, los hy dit op. Die prentjie lyk anders as dit by infrastruktuur kom waar dit lank kan sloer om ‘n probleem reg te stel. "‘n Voorbeeld is staatsbesteding om ons hawens dieper te maak sodat hulle graanvragskepe wat al hoe groter gebou word, kan akkommodeer en ons graanhandel mededingend hou. Die omgewing moet aanpasbaar wees om wat prys en gehalte betref steeds met internasionale waardekettings te kan meeding."
 
Dr Purchase meld dat die regering ‘n baie groot rol speel. Hy skep die reëls waarvolgens die kompetisiespel gespeel word en tree as’t ware as skeidsregter op. Hy moet die bedryf reguleer, wette maak vir registrasie van middels, regulering van GMO’s (geneties gemodifiseerde organismes), en handelsooreenkomste aangaan wat bepaal hoe ons met ander lande kan meeding. Die regering lewer ook ‘n groot bydrae om ‘n omgewing skep waarin entrepreneurs beleggingsrisiko’s kan aangaan om in die voedselwaardeketting mee te doen. Die regering moet net sorg dra dat sy rol nie so groot word dat hy beide skeidsregter en speler is nie. As die regering die mark begin verwring, maak dit beleggers ongemaklik. Daar is ‘n paar rooi ligte wat flikker want die regering wil al hoe meer die produksiespasie betree, om voor te skryf hoe verwerking moet plaasvind en waar belê moet word. Dit is inderdaad die mark se terrein.
 
Jannie de Villiers merk op dat die boer na 1997 besonder vinnig by die vryemarkstelsel aangepas het en nou baie gemaklik daarmee is. "Daar is soms groot uitdagings, maar ons sou verkies dat die regering so min moontlik inmeng. Maar ons het die regering nodig net soos die regering ons nodig het. Ons is besig om kapasiteitsbou-oefeninge in vennootskap met die regering te doen. Die waardeketting hang nou saam met sterk vennootskappe, maar die regering moet toon dat hy vertroue het in die mark se vermoë om te produseer. Sedert deregulering was die land nog nooit sonder kos nie, wat toon dat die mark sy werk gedoen het. Dit beteken nie dat ons elke jaar alles produseer nie, maar ons kan invoer wat ons nodig het want daar is werkbare stelsels, infrastruktuur en handelsooreenkomste."
 
Dr Purchase wys daarop dat die Nasionale Ontwikkelingsplan in 'n mate in die voedselwaardeketting geīmplementeer word. Dit word vergestalt in die APAP (landboubeleid-aksieplan) waar die benadering ook met die voedselwaardeketting saamhang. Die regering kyk na maniere om meer rolspelers tot die ketting te help toetree. Daar is geen twyfel dat transformasie nodig is om meer swart rolspelers by die waardeketting te betrek nie, mits hulle tot mededingende waardekettings toetree. Die landboubeleid het tot dusver goed gewerk, veral in die graanmarkte wat ‘n baie deursigtige vraag-aanbod markmeganisme het. Dit is belangrik om die deursigtigheid en integriteit van prysvormingsmeganismes in die waardeketting te behou. Te veel inmenging van regeringskant kan ontwrigting meebring. ‘n Positiewe aspek van die Nasionale Ontwikkelingsplan is dat hy op markte gebaseer is, hoewel hy dalk te optimisties en ambisieus is deurdat hy ‘n ideale beleidsomgewing en toestande veronderstel waarin ‘n miljoen nuwe werksgeleenthede geskep sou moet word. Dit sal ietwat getemper moet word, want met nuwe tegnologie en meganisasie wat produktiwiteit verhoog, sal daar nie noodwendig soveel nuwe werksgeleenthede geskep kan word nie. Die beleidsomgewing is nog onseker wat grondhervorming, eiendomsreg en waterregte betref. Entrepreneurs wat in die landbousektor wil investeer, het met heelwat risiko’s te doen en sake sal nie noodwendig positief vir werkskepping verloop nie. 
 
Dr Purchase voeg by dat die ANC pas sy konsepbeleid vir sy Algemene Nasionale Raad aan die publiek beskikbaar gestel het. Daaruit blyk dit dat landbou en voedselwaardekettings nommer een in die regering se ekonomiese beleidstruktuur is. Dit beteken dat die regering hoë verwagtinge van die landbousektor koester. "Uit die beleidsdokument blyk dit voorts dat die regering ons kos as te duur beskou. Sy ontleding van die situasie is nie heeltemal korrek nie want soos ek vroeër uitgewys het, verskaf ons baie bekostigbare voedsel van goeie gehalte aan ons verbruikers. Die regering wil nou ‘n saak vir inmenging probeer uitmaak. Dit gaan oor hoër tariewe om ons boere en produkte te beskerm, en oor subsidies op insette soos saad en kunsmis. In Agbiz is ons baie ongemaklik met hierdie benadering want dit sal die markte verwring en ‘n regstreekse maatskaplike uitwerking hê met voedselpryse wat duurder word en mededingendheid wat kwyn. Dit sal oneffektiwiteit in die stelsel verberg, waar dit juis belangrik is om effektiwiteit en produktiwiteit aan te help. Te veel regulasies, reëls en inmenging jaag sakekoste op en mededingendheid ly skade. Dit is krities belangrik om deur middel van gesprekvoering met die regering ‘n goeie begrip te vorm van waar die regering se rol begin, waar dit eindig, wat hy van die privaat sektor verwag en hoe hy wil hê die privaat sektor moet sy mandaat gestand doen om voedsel effektief te produseer."
Jannie de Villiers is dit eens dat hoër tariewe inderwaarheid inkomstebelasting sal wees wat die regering op invoere hef. As dit nie teruggeploeg word in die landbou om dit te stimuleer en groei aan te help nie, sal dit ‘n negatiewe netto-uitwerking hê en landbou net benadeel. Die staat sal landbou en die voedselwaardeketting ten beste kan help deur meer mededingendheid te bevorder. 
 
Landbou het die voordeel, sê hy, dat mense altyd moet eet. Dit sal nooit stop nie. Namate die wêreldbevolking groei en die middelklas groter word, sal vraaggedrewendheid baie sterk bly.
 
Dr John Purchase stem saam dat landbou ‘n baie goeie toekoms het. Suid-Afrika het uitstekende boere en maatskappye in die waardeketting wat weet hoe om mee te ding. Wat nou nodig is, is markontwikkeling. Geleenthede in die buiteland moet ontgin word om geleenthede vir nuwe toetreders te skep. Dit is die volgende groot uitdaging.
 
Einde
 
Die volledige program kan op YouTube gevolg word:
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
 
Nasie in Gesprek in perspektief
Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.
 
“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”
 
Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.
 
Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 
 
Nasie in Gesprek-vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.
 
 





Related Articles