NEWS | Latest news articles

Geen plek vir heethoofde in gronddebat

  • 05 October 2015
  • 1668
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nuus



Die pas waarteen transformasie plaasvind sal bepaal of ons hierdie sensitiewe kwessie uit die hande van roekelose politici kan hou wat die hervormingsproses vir eie mag en politieke gewin wil misbruik.

“Verandering is noodsaaklik en ons moet daarby uitkom, maar ons het ‘n hoë vlak van emosionele intelligensie nodig om dit reg te bestuur. Die geskiedenis leer ons dat groot trauma kan voortspruit uit grondhervorming wat sommer goedsmoeds gedoen word. Daar is ‘n verskeidenheid van voorbeelde in die mensdom se geskiedenis wat bewys dat die kollektifisering van privaatbesit gelei het tot ‘n drastiese afname in landbouproduksie, hongersnood en algehele ekonomiese agteruitgang,” het Jackie Grobler, senior lektor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, gesê tydens die Nasie in Gesprek televisiereeks wat tans op Kyknet uitgesaai word. 

“Grond is ‘n primêre- en emosionele kwessie. Rasionele argumente gaan dikwels verlore in die mens se hunkering na grondbesit. Dit bly egter uiters noodsaaklik dat die herverdeling van grond op ‘n ekonomies haalbare en sinvolle wyse geskied. Die alternatief is ‘n verlies aan voedselsekuriteit en die ondermyning van ekonomiese stabiliteit en vooruitgang,” waarsku Grobler.

Die politieke ontleder en skrywer, Max du Preez stem saam: “Indien ons die situasie nie vinnig aanspreek en oplos nie gaan ons ongetwyfeld in ‘n posisie beland waar roekelose “wilde jakkalse” grondhervorming gaan kaap.”

Du Preez sê egter hy is hoopvol dat die georganiseerde landbousektor pro-aktief werk aan sinvolle oplossings waarby die hele land sal baat. 

“Landbouers het reeds die kopskuif gemaak. Hulle volg in ‘n groot mate ‘n pragmatiese benadering wat ‘n beter kans op sukses het as die verskeie van die kitsoplossings wat deur politici voorgehou word. Transformasie moet op grondvlak plaasvind. Wat ons regering tot dusver aangepak het, het net tot miljarde Rande se verliese gelei,” sê du Preez. 

Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskeie affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om landbou-aangeleenthede van nasionale belang aan te spreek.

Nasie in Gesprek onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville van stapel gestuur. Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word het in so mate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en Kyknet uitgesaai word. 

“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied, en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker,” sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en die totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”
 
…/ends

Nota aan Redakteur:
Die Nasie in Gesprek televisiereeks word geborg deur Senwes, Afgri, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank en Monsanto.





Related Articles