NEWS | Latest news articles

Grondeienaarskap – beduidende veranderings in die Suid-Afrikaanse boerderylandskap in die vooruitsig

  • 13 October 2015
  • 797
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  hinterland



"Dit is ‘n wêreldwye tendens en sal ook in die toekoms die patroon van landbou in Suid-Afrika wees”, sê die politieke ontleder en rubriekskrywer, Piet Croucamp.
 
Croucamp het saam met John Gibbs van In Transformation Initiative deelgeneem aan die tweede aflewering van die gewilde televisieprogram, Nasie in Gesprek, met Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo Capital, as gespreksleier.
 
In Transformation Initiative, het Gibbs verduidelik, is tans in gesprek met staatsinstansies en alle ander belanghebbendes in die landboubedryf om oor die kwessie van grondeienaarskap te besin. In Transformation Initiative is ‘n vereniging van strategiese denkers in Suid-Afrika en ander dele van die wêreld wat oor komplekse vraagstukke beraadslaag met die doel om die beginsels van die Suid-Afrikaanse vredesmodel te bevorder. Die fokus is in die besonder op dialoogvoering en stimulering van kreatiewe denke oor Suid-Afrika se komplekse vraagstukke. 
 
Op ‘n vraag van Vorster of daar ‘n plek vir tradisionele, maatskaplike grondbesit in die Suid-Afrikaanse landbouomgewing is, wys Croucamp daarop dat dit geweldig baie kapitaal en kundigheid verg om ‘n kleinboer suksesvol te maak. Met die staat wat tans onder finansiële druk verkeer en finansiële instellings wat nie noodwendig op groot skaal by kleinboerdery betrokke sal raak nie, maak dit nie sin om groot investering in kleinskaalse boerdery te doen nie. Nogtans lewer kleinboere, waarvan daar meer as 400 000 in Suid-Afrika is, ’n groot bydrae om voedelsekerheid te bevorder in landelike gebiede waar groot kettingwinkels nie teenwoordig is nie.
 
John Gibbs sê groot kommersiële boere word primêr aangespoor deur kommersiële en winsdoelwitte te midde van die harde werklikheid daarvan om ‘n winsgewende besigheid in die kommersiële ruimte te bedryf. Kleinboere, daarenteen, is nie soseer op wins en vooruitgang ingestel nie, maar meer op voedselsekerheid vir sy gesin en in die breë ook die van die omliggende gemeenskap. Daarom is dit noodsaaklik om verskillende oplossings vir verskillende segmente van die landbougemeenskap te vind.
 
Die familieplaas aan die een kant en klein- en gemeenskapsboere aan die ander kant vorm die grondslag van boerdery in Suid-Afrika. Om ‘n breër grondslag van ekonomiese voordeel in die landbousektor te vestig, veral wat grondhervorming betref, moet kleinboere op ‘n vrywilligheidsgrondslag bereid wees om stap vir stap tot die vlak van grootskaalse kommersiële boerdery te vorder.
 
Croucamp sê dit is ietwat van ‘n mite dat dit vir die groot kommersiële boere hoofsaaklik om wins gaan. Boere wat net winsgedrewe is, hetsy in Suid-Afrika of elders in die wêreld, sal nie ‘n volhoubare besigheid kan bedryf nie.  Vandag se boer is ‘n besigheidsman, en in die konteks van sy besigheid is daar velerlei gemeenskaps-, arbeids- en tegnologiese faktore wat hy ernstig in ag moet neem om sy risko’s so laag moontlik te hou. Werkersgetalle in die Suid-Afrikaanse landbou het van meer as een miljoen afgeneem na sowat 500 000. Dit is nie noodwendig die gevolg van meganisasie, tegnologie of selfs beleidsonsekerhede en grondhervorming nie, maar dui eerder op vordering, vooruitgang en mededingendheid. Van die 170 000 boere van 20 jaar gelede is daar vandag net sowat 40 000 oor. Vandag se plaaswerkers is operateurs van duur tegologiese toerusting en implemente, wat ‘n hoër vlak van opleiding en vaardigheid verg.  Dit lei tot groter mededigendheid en hoër arbeidskoste, wat beduidende vooruitgang en ontwikkeling onder die arbeidsmark tot gevolg gehad het. Dit is algemene gebruik vandag vir groot kommersiële boere om internasionaal betrokke te raak, byvoorbeeld die oprigting van pakhuise en verspreidingsmeganismes in die buiteland. Dit bring weer finansiële dividende na Suid-Afrika terug.
 
Op ‘n vraag van Vorster oor die plaas as gemeenskapsbate en hoe opbrengs in die tradisionele sektore verhoog kan word, sê Croucamp die tradisionele familieplaas en gemeenskapsboerdery is baie belangrik. Dit is die institusionele geheue van boerdery in Suid-Afrika wat die grondslag bied vir grootboere om suksesvol te boer. Alle groot kommersiële boere van vandag, of hulle voorouers, was eens familieboere. Dit bied die kontinuïteit wat regdeur die landbousiklus loop. 
 
Volgens Croucamp neem ‘n plaas nie net finansiële verantwoordelikheid vir sy werkersgemeenskap nie, maar ook maatskaplike verantwoordelikheid, insluitende voorsiening van mediese dienste, behuising, veiligheid en stabiliteit. Boere kry dikwels nie erkenning vir hul veel meer omvattende betrokkenheid by die gemeenskap nie, hoewel dit nie noodwendig in ‘n politieke konteks sin sal maak nie. In die toekoms sal die boer se maatskaplike verantwoordelikheid waarskynlik afgeskaal moet word om plek te maak vir groter kommersiële aansporingsmiddele om die werker op die plaas te hou.
 
Die konsep van die tradisionele plaaswerker sal moet verdwyn want dit is nie standhoudend in ‘n moderne ekonomie nie. In die plek daarvan moet opgeleide, kundige en vaardige personeel kom om hulle nageslagte sosio-ekonomies mobiel te kan maak om na ‘n hoër maatskaplike vlak te beweeg.
 
Theo Vorster wys daarop dat as landbou in Suid-Afrika op die JSE genoteer sou wees, hy die agtste grootste genoteerde maatskappy sou wees wat ‘n groter bruto wins as die mees winsgewende maatskappy op die JSE sou toon.
 
John Gibbs sê tradisonele bestaansboere kom grotendeels voor dieselfde uitdagings as die familieplaasboer te staan, naamlik toegang tot finansiering, infrastruktuur, vervoer, water, elektrisiteit en arbeid. Dit is egter uitdagings wat normaalweg uit die oogpunt van die gemeenskapsboer onoorkomelike beperkings is. Een positiewe voorbeeld is nietemin ‘n groep kleinboere in die Mopane-distrik in Limpopo wat ‘n gemeenskapsmark gevestig het wat in samewerking met die varsproduktemark in Johannesburg bedryf word en waartoe sowat 400 kleinboere bydra. Dit bied aan die opkomende boere ‘n afsetmark wat tot buite die grense van Suid-Afrika strek.  Die verskaffing van gemeenskapsmarkte binne die bereik van die kleinboer lei tot die ontwikkeling van ‘n kommersiële ingesteldheid met enorme voordele en sukses vir die plaaslike gemeenskap. Dit is ‘n model wat grootliks verskil van dié van groot kommersiële boerderye.
 
Op die politieke front met die komende munisipale verkiesings in gedagte, is Piet Croucamp van mening dat grondhervorming en grondbesit nog nooit in die verlede ‘n beduidende rol in verkiesings gespeel het nie. Die werklike revolusionêre kapasiteit gaan oor stedelike gebiede, want stedelike grond is die werklike duur grond in Suid-Afrika. As daar onbestendigheid oor grond moet wees, sal dit oor stedelike grond en nie oor plaasgrond gaan nie. Grondhonger is een van die groot mites van die Suid-Afrikaanse politiek. Die regering poog om mense in sosio-ekonomiese armoede in ‘n feudale omgewing vasgevang te hou. Die druis in teen die grein van ekonomiese modernisering. Daar is veel meer politieke munt daaruit te slaan om vir mense ‘n stukkie stedelike grond aan te bied om ‘n besigheid te begin, as om ‘n lappie plaasgrond te belowe.
 
Fundamenteel is daar by swart Suid-Afrikaners geen dringende behoefte aan plaasgrond nie, maar wel ‘n behoefte aan ekonomiese oorlewing, om werk te kry waar hy ‘n maatskaplike vlak kan betree om na die behoeftes van sy gesin om te sien, sy kinders goeie opvoeding te bied en normale behuising te bekostig.
 
Oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika sê Gibbs hy is besonder positief. Deur middel van dialoog sal ‘n stel beginsels gevestig kan word waarbinne beleidsekerheid kan ontwikkel. Landbou is van kritieke belang vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, veral uit die oogpunt van werkverskaffing en voedselsekerheid. Die beskikbaarheid van landbougrond is beperk. Die oplossing lê dus in groter produktiwiteit.
 
Croucamp is van mening dat, ten spyte van die groot rol wat die tradisionele familieplaas nog altyd in die ontwikkeling van landbou gespeel het, dit ‘n konsep is wat oor die volgende dertig jaar gaan verdwyn. Die hele landskap gaan verander. Sowat 70 tot 75 persent van die bevolking gaan in stede bly. Landbou gaan sy politieke identiteit verloor en toenemend ‘n sakekonsep word om, wat voedselproduksie betref, sy plek in die hoër trajek van die ekonomie in te neem.
 
Einde
 
Die volledige program kan op YouTube gevolg word:
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (Vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
www.nationinconversation.co.za 
 
Nasie in Gesprek in perspektief
Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.
 
“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”
 
Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.
 
Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 
 
Nasie in Gesprek Vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.





Related Articles