NEWS | Latest news articles

Landelike veiligheid: JY maak die verskil

  • 19 September 2022
  • 1142
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nasieingesprek



Die paneel het bestaan uit: Derek Mathews (Graan SA), Uys van der Westhuijzen (Agri Wes-Kaap) en Jan Visagie (Cape Flats Agricultural Association).

Meer as net plaasaanvalle

Vanuit die staanspoor was die paneellede dit eens dat landelike veiligheid ʼn probleem met ʼn komplekse ondertoon is, veral uit hoofde van ʼn sosio-maatskaplike oogpunt. Ten tweedens is dit duidelik gestel dat landelike geweldsmisdaad nie tot plase en boere beperk is nie, maar eerder die totale landelike omgewing.

Landelike veiligheid spreek tot meer as plaasaanvalle en het 'n rimpel-effek op die groter gemeenskap. Geen persoon kan op sy eie hierdie euwel aanspreek nie, dit verg vennootskappe en samewerking van alle rolspelers. Uys van der Westhuijzen

Vir beide Derek Mathews en Jan Visagie is landelike geweldpleging ʼn realiteit en moes beide van hulle die trauma van geweldsmisdaad verwerk. In die lig hiervan meen Mathews dat negatiwiteit en wraaksugtigheid nie vir hom ʼn opsie is nie, omdat dit niks aan die situasie verander nie. Vir hom is dit belangrik om nie deur die voorval gedefinieer te word nie, maar eerder om ʼn aktiewe rol te speel in die voorkoming van nog sulke gebeurtenisse. Visagie stem saam, en het bygevoeg dat alle landelike gebiede in dieselfde bootjie is, en dat niemand immuun is teen gewelddadige aanvalle en misdaad nie. Die grootste fout wat iemand kan maak is om te sê dat dit nie met hom/haar kan gebeur nie.

Elkeen het ʼn rol om te speel

Volgens Van der Westhuijzen is landelike veiligheid nie slegs ʼn polisiëringsprobleem nie, en is dit belangrik dat elke persoon verantwoordelikheid sal neem vir die probleem. Hy meen voorts dat dit van kardinale belang is dat plaaslike gemeenskappe en polisiekantore hande sal vat en saam na oplossings vir die probleem sal soek.

Mathews stem saam en meen dit is hartseer dat daar in baie gevalle eers ʼn traumatiese gebeurtenis moet plaasvind alvorens hierdie samewerkingsverhouding posvat.

As dit kom by die aanvaarding van verantwoordelikheid is dit voorts vir Visagie belangrik dat individue  “in die kop van misdadigers” sal klim om vanuit ʼn ander perspektief na sy/haar eie veiligheidsomgewing sal kyk.

Die nasionale landelike veiligheidsplan word voorgehou as ʼn werkbare strategie wat gevolg kan word om geweldsmisdaad aan te spreek, en volgens Van der Westhuijzen spel dié plan duidelik die onderskeie rolle in wat deur die gemeenskap en die staat gevolg moet word. Die grootste uitdaging is egter die effektiewe implementering van die plan.

Praktiese riglyne om te volg

Die paneellede het die volgende praktiese riglyne gegee:

  • Wees ten alle tye veiligheidsbewus.
  • Evalueer voortdurend jou eie omstandighede.
  • Gaan vir berading na afloop van ʼn misdaadgeval.
  • Maak seker dat jou kamerastelsel intyds ʼn alarm kan uitstuur in die geval van ʼn noodgeval.
  • Maak seker jy beskik oor die vermoë om jou ondersteuningsnetwerk te aktiveer in die geval van ʼn noodgeval.





Related Articles