NEWS | Latest news articles

LOOPBANE IN LANDBOU

  • 19 May 2023
  • 1573
  •  
  •  
  •  



Nasie in Gesprek is die breinkind van Francois Strydom, hoof uitvoerende beampte van Senwes, wat hierdie jaar die twaalfde keer suksesvol aangebied is. Hierdie jaar se tema het gegaan oor veranderende omstandighede wat alle rolspelers dwing om aanpasbaar te wees; verander of sneuwel. Hierdie laaste sessie het oor die verskillende loopbaangeleenthede binne landbou gegaan met Anlie Hattingh, eNCA-nuusanker, as fasiliteerder. Paneellede wat in hierdie sessie opgetree het, is Hester Barnard (Senwes), dr Frik Steenkamp (afgetrede skoolhoof, Wesvalia), Chris Koch (Certisure), Stehan Cloete (John Deere), dr Johnny van der Merwe (AMT en Agri Optimum) en dr Danie Jordaan (Universiteit van Pretoria).

Stehan Cloete het vertel hoe jy soms binne landbou vinnige besluite moet neem. “Kunsmatige intelligensie speel 'n al hoe groter rol in alle bedrywe. Ek wou altyd by John Deere werk. Dis ʼn droom wat realiteit geword het. My loopbaan is my passie.”

“Daar is tans ʼn groot tekort aan landbou-onderwysers in Suid-Afrika,” het dr. Frik Steenkamp, afgetrede skoolhoof, gesê. “Ek kon my passie vir landbou binne onderwys uitleef. Ek doen ʼn beroep op tersiêre instellings om ʼn NGOS in landbou aan te bied.”

Chris Koch het die program vir gegradueerdes in Senwes voltooi en die loopbaanleer binne hierdie maatskappy geklim waar hy tans uitvoerende hoof van versekering en risiko is. “Landbou het jong talent nodig wat sekere aspekte binne landbou vorentoe kan neem. Wees nuuskierig. Lees die regte bronne. Hou aan ontwikkel. Moenie net altyd die nuus op Facebook vertrou nie - gaan lees die inligting wat oor landbou beskikbaar is.”

Dr Johnny van der Merwe het leerders en studente aangemoedig om praktiese ondervinding op te doen en vakansiewerk te kry. “As jy iets doen waarvan jy nie hou nie, is dit ook al ʼn manier om iets te leer. Bou verhoudings en netwerk. Vind jou passie en dan sal dit nie soos werk voel nie.”

Dr Danie Jordaan van die Universiteit van Pretoria sê dat daar vele loopbaanrigtings in landbou is wat deur tersiêre instellings aangebied word. “Rus jouself met soveel moontlik inligting toe, of dit in die primêre sektor of ʼn posisie in ʼn maatskappy is. Maak seker dat jy die regte vakke het as jy in ʼn landbourigting wil spesialiseer.”

Hester Barnard, personeelbestuurder van Senwes, moedig leerders aan om soveel as moontlik te lees. “Daar is 'n plekkie vir enigeen in die landbou. Ken jouself en jy sal jou plek kry. Daar is tans ʼn tekort aan silobestuurders en trekkerwerktuigkundiges. Daar sal ook binnekort ʼn tekort aan ontleders van data wees.”

Anlie Hattingh het genoem dat die Here net een keer grond geskep het. Dit is die enigste grond wat tot ons beskikking is tot aan die einde van die aarde se bestaan. Hoe ons daarmee werk, is verskriklik belangrik. Geleenthede binne landbou is nimmereindigend en ʼn platform waar enigiemand sy/haar passie kan uitleef.

 

Kyk hier na die sessie as jy dit dalk misgeloop het.

 

Uitgereik deur Nasie in Gesprek: 19 Mei 2023

Medianavrae:

Elmarie Joynt
Senwes Groepsekretaris en regsadviseur
018 464 7104 of 083 440 1345






Related Articles