NEWS | Latest news articles

Nasie in Gesprek – Fokus op die SAOG en Afrika

  • 23 May 2016
  • 2119
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nasieingesprek



Die paneel het bestaan uit Bonani Nyhodo, Bestuurder van die Nasionale Landbou Bemarkingsraad (NAMC); Theo de Jager, President van die Pan Afrika Boerdery Organisasie (PAFO); Jacob de Villiers, Besturende Direkteur van Graanbestuur by AFGRI asook ons bekende Nasie in Gesprek ankeraanbieder Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo Capital.
 
Die gesprek het afgeskop met die vraag: Waarom sekere Suid-Afrikaanse boere in Afrika inbeweeg. Bonani het die vraag so beantwoord: “Boere is besigheidsmense, entrepreneurs wat ‘n geleentheid buite die landsgrense raakgesien het.” Dit kan een rede wees. Theo de Jager het ‘n baie interessante benadering gehad: “Die besigheidsmanne wat in Afrika inbeweeg, doen dit omdat hulle verstaan hoe om in ‘n ontwikkelende land, soos Suid-Afrika, te werk. Hulle ken dus die omgewing.”
 
Theo de Jager het ook oor die positiwiteit in Afrika gesels: “Die boere in Suidelike, Oostelike en tot ‘n sekere mate Noordelike Afrika, is besigheidmense. Daar is ook wonderlike interaksie tussen die Suid-Afrikaanse boere en die plaaslike gemeenskappe daar.”
 
‘n Meer globale en oorkoepelende feit is dat “groot kettingwinkels in Afrika inbeweeg. Dit het daartoe bygedra dat baie besigheidsmanne ook dieselfde roete geneem het,” so het Bonani die situasie beskryf. Daar is dus integrasie van besighede en besigheidsmense in Afrika. Jacob voel dieselfde: “Ons volg die boere soos hulle in Afrika inbeweeg, want daar sal geleenthede opduik. Daarom is die ontwikkeling van landelike gebiede in Afrika absoluut kritiek.”
 
Alles is egter nie net maanskyn en rose nie. Theo de Jager het genoem dat “stabiliteit altyd ‘n kwessie sal bly.” Bonani het hierby aangesluit deur te noem dat daar ook “baie informele tolroetes in Afrika is.” Die paneel het saamgestem dat daar wel verskuilde kostes is soos jy met vragte deur sekere Afrika-lande beweeg. Jacob het ook die logistieke  kwessies aangeraak. “Om vragte in Suid-Afrika te verskuif is ‘n probleem. Dit is ‘n selfs groter probleem om vragte oor landsgrense te verskuif.” Theo Vorster het Afrika so omskryf: “Soos die tyd verloop sal ons beter verstaan hoe dinge in Afrika werk. Dit neem wel langer vir dinge om plaas te vind as wat mense aanvanklik dink, maar die impak is dan soveel groter.”
 
Wat verblydend was, was die positiwiteit onder al die paneelgaste. “Ons moet Afrika se potensiaal ontgin, om sodoende die wêreld te kan voed.” noem Jacob. Bonani het gesê dat Suid-Afrikaners nou eers wyer kyk en die kanse vir groei is legio: “Suid Afrika het in die verlede net op Suid-Afrika alleen gefokus en nie op Afrika nie, nou is ons meer deel van die kontinent as in die verlede. Dis hoekom daar boere is wat vandag in Afrika besigheid doen.” So moet ons dit in ‘n positiewe lig sien dat ons saam met ander lande werk, instede daarvan om die uittog van boere net as ‘n verlies te sien. Theo het dit beaam:  “Dit is nie net Suid-Afrikaners  wat besigheid in Afrika gaan doen nie, dit is individuele sakemanne.”
 
As mense oopkop bly sal hulle sien dat Afrika-lande Suid-Afrikaanse boere met ope arms verwelkom, en indien alles in plek val, kan Afrika die toekoms wees. Bonani het na die “Afrika droom” verwys om ‘n treinspoor van Kaapstad na Kaïro te bou om so Afrika-lande te verbind, en met Theo de Jager wat daarop gedui het dat “Afrika met 46% van die wêreld se onbenutte grond sit,” en die feit dat Suid-Afrikaanse boere van die mees gevorderde in die wêreld is, kan Afrika werklik ‘n krag word om mee rekenskap te hou.
 
Kliek op die volgende skakels om na die volledige program te kyk.
 

Kyk na al die episodes op Youtube, hou die webtuiste dop vir die uitsaaitye van die verskeie episodes op die verkillende televisiestasies en laai ons app af. Volg die gesprek ook op Twitter @nationconverse en kyk uit vir ons gereelde plasings op ons Facebook bladsy asook op Instagram.






Related Articles