NEWS | Latest news articles

Nasie in Gesprek – Suksesstories

  • 18 May 2016
  • 1791
  •  Nasie in Gesprek
  •  Nasie in Gesprek
  •  nasieingesprek



Die fokus was op die sukses van ontwikkelende produsente en bemagtigingsinisiatiewe en al drie paneelgaste het saamgestem dat die geheim van sukses sonder twyfel die “wil” is om dit te doen. “Jy moet suksesvol wil wees,” het Solomon gesê. Solomon het die mynbedryf verlaat en sy hand aan landbou probeer omdat hy “boerdery as ʼn hernubare en volhoubare bron beskou. As jy die mynproduk eers uit die grond haal, kan dit opraak; by landbou word ʼn produk produseer en die grond kan elke jaar herplant word.”
 
Solomon het omtrent sewe jaar gelede met slegs sewe beeste en een hektaar grond begin, en vandag het hy al kommersiële status bereik. Sy geheime vir sukses is om “hulp van ander kommersiële boere te soek, om gewillig te wees om te leer, en om versekering in plek te hê”
 
Phillip Retief het die Van Loveren Wingerde suksesstorie gedeel waar die familiebesigheid besluit het om hulle 116 werkers deur ʼn volgehoue vennootskap te bemagtig. Hier het twee entiteite saamgewerk om ʼn nuwe plaas in 2004 te koop en te ontwikkel. Hier besit die werkers 52% van die besigheid wat nog elke jaar dividende gelewer het. “Die grootste uitdaging was kommunikasie en onderrig om die besigheid te verstaan. Ons het met mense van verskillende ouderdomsgroepe te doen gehad en dit was belangrik dat hulle verwagtinge bestuur moes word.” 
 
Theo het Phillip gevra of hy enige advies vir ander kommersiële produsente het wat in soortgelyke skemas betrokke wil raak. “Doen dit omdat jy wil, nie omdat jy moet nie, moet ook nie brûe verbrand nie en wees geduldig,” het Phillip gesê.
 
Lennox het die storie van die Witzenberg PALS projek, Vennote in Landbou en Grondoplossings gedeel, wat in Mei 2015 tot die totstandkoming van ʼn nie-winsgewende organisasie gelei het. Hierdie organisasie het met kommersiële produsente in die area saamgespan om aan die hand van die regering se Nasionale Ontwikkelingsprogram die ontwikkelingsteikens in die plan te behaal. “Vierhonderd produsente het betrokke geraak en hul steun en betrokkenheid beloof. Nou, ʼn jaar later het ons verskeie individue in die gemeenskap geïdentifiseer waar ons aktief betrokke is om hulle by te staan met vaardigheidsontwikkeling en mentorskapsprogramme. Die grootste sukses tot op hede was die totstandkoming van die Witzenberg PALS sentrum vanwaar die projek bestuur word.”
 
Deur dialoog met die paneelgaste het Theo tot die slotsom gekom dat van die grootste uitdagings vir opkomende produsente en hulle suksesstories is regeringsburokrasie, toegang tot befondsing, hulpbronregte soos water en elektrisiteit, en die wil om suksesvol te wees.
 
Hiermee het die eerste sessie van Nasie in Gesprek afgesluit en die volgende sessie sal ewe interessant wees met die tema, Die Politiek van Voedsel. Besoek die Nasie in Gesprek webtuiste vir meer inligting rakende die datums, tye en onderwerpe van al die sessies.
 
Besoek die Nasie in Gesprek webtuiste by www.nasieingesprek.co.za. Laai die Nasie in Gesprek Toep af by die verskeie App winkels en neem lewendig deel aan die gesprek.

Kyk na al die episodes op Youtube, hou die webtuiste dop vir die uitsaaitye van die verskeie episodes op die verkillende televisiestasies en laai ons app af. Volg die gesprek ook op Twitter @nationconverse en kyk uit vir ons gereelde plasings op ons Facebook bladsy asook op Instagram.





Related Articles