NEWS | Latest news articles

Nasie in Gesprek weer by Nampo Kaap

  • 29 August 2023
  • 743
  •  
  •  
  •  



Die eerste paneelbespreking skop op Woensdag 13 September om 10:00 af en handel oor die ekonomiese gevolge wat die Russiese oorlog op Suid-Afrika se handelsverhoudings het. Ontwrigting in globale voorsieningskettings, skommelinge in kommoditeitspryse en diplomatieke spanning is direkte uitvloeisels van die oorlog.

Paneellede wat die diepgaande impak van globale konflik op wêreldhandel sal ondersoek, sluit in: Alan Winde (premier: Wes-Kaap), Wolfe Braude (Agbiz), Wandile Sihlobo (Agbiz), Anthony Clarke (Smalltalkdaily Research) en John Hudson (Nedbank).

Bespreek jou plek vir Sessie 1 hier.

Die tweede sessie vind op Woensdag 13 September om 14:00 plaas. Die groei van die kanola-bedryf in die Kaap sal onder die loep kom. Die groei wat tans in hierdie bedryf ervaar word, versterk nie net plaaslike ekonomieë nie, maar vestig ook die Kaap as ʼn beduidende bydraer tot die globale kanola-voorsieningskettings deur aan die stygende vraag na gesonde olies en biodiesel te voldoen.

Paneellede wat na die toekoms van dié bedryf sal kyk en produsente met bruikbare inligting sal toerus, sluit in: Pieter Malan (SSK), Koos Blanckenberg (Kanola Spesialiskomitee), Kellie Becker (SOILL) en Jose de Kock (produsent).

Bespreek jou plek vir Sessie 2 hier.

Die derde sessie op Donderdag 14 September om 10:00 neem kragopwekking in die Kaap onder die vergrootglas. Die Kaapstreek het ʼn leiersrol ingeneem ten opsigte van die bevordering van kragopwekking en het al keer op keer merkwaardige vordering getoon as dit by volhoubare energie-inisiatiewe kom.

Paneellede sal na die Kaap se suksesvolle proaktiewe benadering ten opsigte van natuurlike hulpbronne kyk wat wind, sonkrag en hidro-elektrisiteit insluit. Die paneel bestaan uit sprekers wat die saak van verskillende kante benader; regeringsamptenare wat beleide vorm, asook persone uit die privaatsektor wat tegnologiese vordering dryf. Die volgende persone beloof om jou ʼn holistiese beeld oor volhoubare kragopwekking te gee: Geordin Hill-Lewis (burgemeester: Kaapstad), Argon Poorun (Green-Cape), dr. Kandas Cloete (BFAP) en Gary Vorster (produsent).

Bespreek jou plek vir Sessie 3 hier.

Die laaste sessie vind plaas op Donderdag 14 September om 14:00 en kyk na uitdagings wat die skaapbedryf in die Kaapprovinsie tans in die gesig staar. Struikelblokke waarna gekyk sal word, is wisselende markvereistes, klimaatonsekerhede en veranderende verbruikersvoorkeure.

Paneellede wat saam na oplossings sal soek, sluit in: Dr. Ivan Meyer (minister van landbou in die Wes-Kaap), Stephen van Huyssteen (voormalige BD: KLK), dr. Phillip Oosthuizen (RMIS), Isak Staats (BKB) en Richard Krige (produsent / Overberg Agri).

Bespreek jou sitplek vir Sessie 4 hier.

Kom gesels saam oor kwessies wat nie net op die landbousektor van toepassing is nie, maar wat ook ʼn uitwerking op die breë ekonomie het. Bespreek vandag nog jou plek by Senwes se Nasie in Gesprek-paneelbesprekings tydens vanjaar se Nampo Kaap.


Uitgereik deur die Senwes Groep:
29 Augustus 2023






Related Articles