NEWS | Latest news articles

Veranderinge in Primêre Produksie

  • 11 December 2015
  • 1889
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nuus



Daar is twee belangrike gebeurtenisse wat die aard van die primêre landbou-entiteit die afgelope jare beduidend verander het, sê Francois Strydom, Besturende Direkteur van Senwes. Die eerste hiervan was die koms van die vryemarkstelsel na 1994. Tot op daardie tydstip het die Suid-Afrikaanse boerderybedryf hom in ‘n totaal beskermde eenkanaalstelsel bevind, afgesny van die wêreld. Die tweede belangrike komponent waartoe die vrymaking van die mark aanleiding gegee het, is kompetisie. Waar die boer grootliks geïsoleerd op sy plaas bestaan het, moes hy skielik op internasionale vlak meeding. Uit hierdie oogpunt is Suid-Afrika ‘n relatief jong ekonomie. Veral landbou is ‘n jong ekonomie wat nog daagliks ontwikkel.
 
Francois Strydom het saam met Dr Philip Theunissen van Computus Landbou-Ekonomiese Dienste deelgeneem aan die landbougespreksforum, Nasie in Gesprek, wat op KykNET uitgesaai word. Die gasheer en gespreksleier is Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo. Nasie in Gesprek is ‘n platform wat geskep is om gesprekvoering te stimuleer oor kwessies wat almal raak, veral aangaande die landbou. Die sentrale tema van vandeesweek se bespreking was die immer veranderende omgewing van primêre boerdery.
 
Die primêre produsent bevind hom in ‘n totaal ander omgewing, voeg Francois by. Aspekte soos tegnologie en arbeid het met rasse skrede verander. Die rolspelers in die voedselwaardeketting het baie meer gekonsentreerd en dominant geword. Hy sê feitlik 80 persent van alles wat ons eet, drink of aantrek word deur ‘n klein hoeveelheid rolspelers gekanaliseer. Daar is 30 000 boere wat produseer aan die een kant, met 50 miljoen verbruikers aan die ander kant. Met in- en uitvoere wat bykom, het die konsentrasie rolspelers in die waardeketting aansienlik toegeneem.
 
Dr Philip Theunissen wys daarop dat die boerderybedryf met die koms van die vrye mark die voormalige bemarkingsrade en politieke ondersteuning verloor het. Talle landboukoöperasies is tot besighede omskep. Waar hulle altyd die boer se belange gedra het, het hulle nou die aandeelhouers se belange begin dra. Skaalekonomie het ook ‘n rol begin speel. Boere het baie goed op die veranderings gereageer en dit is verstommend hoe hulle entrepreneurskap ontluik het.
 
Wat skaalekonomie betref, sê Philip, tree dit heelwat vroeër in as wat normaalweg verwag sal word. In die Oos-Vrystaat lê die kruin van skaalekonomie by ongeveer tweeduisend hektaar en ‘n kapitale waarde van R30 miljoen. Tot op daardie vlak is daar nog skaalvoordele, maar daarna begin dit afplat en effektiwiteit begin afneem. Die mediumgrootte boer het amper die beste kans op oorlewing en dit gaan finansieel met hulle goed. Uiteraard kry die klein boer swaar, maar hy kan kompenseer deur byvoorbeeld ‘n stroper te huur in plaas daarvan om een te koop. Later bereik hy die punt waar hy kontrakwerk en die aankoop van 'n stroper teen mekaar moet opweeg. As daar groeigeleenthede vir die boer is, kan hy deur daardie ewewig breek. Omdat geleenthede tot horisontale uitbreiding redelik beperk is, sal boere na vertikale uitbreiding moet kyk.
Francois is dit eens dat ‘n boer nie net onbeperk groter kan word en verwag dat grootte noodwendig effektiwiteit sal meebring nie. Die boer moet sy strukture aanpas namate sy boerdery groei sodat hy beheer en effektiwiteit kan behou. “Grootte op sigself is geen waarborg vir effektiwiteit nie. Dit gaan daaroor dat, of jy nou 'n klein, medium groot of groot boer is, jy gepaste strukture moet daarstel om beheer te kan behou.” 
 
Theo Vorster merk op dat boerdery in Suid-Afrika gegrond is op ‘n model van grondbesit, waar die boer die eienaar van die grond is waarop hy sy boerdery bedryf. Dit is nie ‘n model wat oral in die wêreld geld nie. Hy vra of daar ruimte in Suid-Afrika is om die tradisionele grondbesitmodel aan te pas. Nog ‘n kwessie wat in die media opgehaal word, is die relatief hoë ouderdom van produsente in Suid-Afrika in vergelyking met die res van die wêreld.
 
Francois beaam dat die verhouding van grond wat die Suid-Afrikaanse boer besit teenoor die grond wat hy huur waarskynlik die grootste van al die Westerse lande is. Daar is wel alternatiewe stelsels en moontlikhede waar die boer grotendeels huur en sy balansstaat anders posisioneer, maar voorlopig sal die verhouding van eie grond teenoor gehuurde grond groot bly.
 
Philip wys daarop dat boerdery deesdae so kapitaalintensief is dat dit die boer langer neem om die nodige kapitaal te bekom. Dit is een van die redes vir ouer boere, want hulle bereik die optimale vlak van die boerdery op 'n later stadium as 'n paar jaar gelede. “Maar die syfers dat boere gemiddeld ouer as 60 is, is oordrewe. Selfs in Amerika is die gemiddelde ouderdom van boere 58 jaar. ‘n Opname wat ek onlangs gedoen het, toon dat ons boere gemiddeld 54 tot 55 jaar oud is. Maar die goeie nuus is dat daar ‘n beduidende aantal jong opvolgers is wat reeds op plase in die Oos-Vrystaat is. Hulle gemiddelde ouderdom is 32 jaar. Nog ‘n tendens is dat die jonger geslag weens gebrek aan werksgeleenthede noodwendig weer terugkeer plaas toe, en dit is hoogs gekwalifiseerde jong mense met ingenieurs- en BComm-grade.“
 
Francois voeg by dat jong boere baie gemaklik met tegnologie is. Hulle gaan innoverend met tegnologie om en vind beter maniere om ou goed te doen. Hulle het 'n vars uitkyk en entoesiasme, maar funksioneer nog steeds onder die wakende oog van iemand met goeie ondervinding wat weet hoe op die spesifieke grond geboer moet word en wat die natuur en sy elemente in ag neem.
 
Philip beaam dat jong boere ‘n goeie begrip van besigheid en besigheidstrukture ook het. Hulle is nie tevrede met eenmansake nie en wil maatskappye of trusts oprig. Sowat 35 persent van die boerderye in VKB se bedieningsgebied is 'n trust, maatskappy of BK. Jongmense begin al hoe vroeër ‘n belang in die boerdery kry. 
 
Ten opsigte van voedselsekerheid wys Philip daarop dat die bevolking teen twee persent per jaar groei, maar dit is verontrustend dat verstedeliking teen 1.6 persent per jaar plaasvind. Die geprojekteerde bevolking oor twintig jaar sal bykans 70 mijoen wees, waarvan 53 miljoen in stede sal woon. Voedselsekerheid sal by hierdie verstedeliking moet bybly. Landbou het oor die afgelope 150 jaar bewys hy kan bybly. In 1850 het dit vier werksdae geneem om een ton mielies te produseer. In 1930 was dit een werksdag, en in 1990 sewentig minute. In 2015, met nuwe tegnologie, kan een ton mielies in twaalf minute geproduseer word. Met die entrepreneurskap wat kenmerkend is van boere, agribesighede en verskaffers sal landbou bybly.
 
Francois is van mening dat die Suid-Afrikaanse primêre produksie-eenheid se grootste uitdaging opgesluit lê in arbeid en arbeidsverwante aspekte. Boerderystrukture sal ook moet aanpas. Boere moet vinnig struktuuraanpassings kan maak om alle aspekte van stelsels, stelselintegrasie en arbeid, soos arbeidsinsette, kundigheidsvlakke en produktiwiteit, te bestuur sodat hy meer in minder tyd kan doen en op meer plekke kan uitkom.
 
Philip stem saam dat boerderye meer sakegeoriënteerd en produktief sal word en dat die grootste veranderinge op die arbeidsterrein sal plaasvind.  Gemiddelde arbeidergetalle op plase is besig om te daal. Plaaswerkers sal meer kundig en gespesialiseerd wees en beter besoldig word. Daar gaan minder werksgeleenthede op plase wees en ongeskoolde arbeid sal deur die res van die Suid-Afrikaanse ekonomie geabsorbeer moet word.
 
Einde
 
Die volledige program kan op YouTube gevolg word:
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
 
Nasie in Gesprek in perspektief
Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.
 
“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”
 
Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.
 
Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 
 
Nasie in Gesprek-vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.
 





Related Articles