NEWS | Latest news articles

Wildboerdery as bedryfsvertakking in boerdery

  • 20 October 2015
  • 902
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  press-release



Die bedryf sal toenemend self verantwoordelikheid moet aanvaar vir die wyse waaarop dit bestuur word en wat die waarde van die wildbedryf as bate is. Die ekonomie kan nie in isolasie bestaan nie. Daar moet gekyk word na metodes om bemagtiging aan te spoor en die gemeenskappe te betrek waarbinne die wildbedryf bestuur word.
 
Croucamp het deelgeneem aan die Nasie in Gesprek-forum wat onder leiding van Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo Capital, voor ‘n gehoor tydens die Senwes se Jongboer Toekomsfokusdag by NAMPO Park plaasgevind het. Ook op die besprekingspaneel was Wiaan van der Linde, eienaar van Wintershoek Safaris en 2012 wildboer van die jaar, Danie Minnaar, wildboer en voorsitter van Senwes, en Ramondé Odendaal van Senwes Landboudienste.
 
Vorster het daarop gewys dat die wildbedryf fenominaal gegroei het en ‘n nasionale bate word, wat die belangrikheid van die bedryf beklemtoon. Volgens Croucamp is die bedryf in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene. Dit kan groei tot iets groots as nasionale bate, of dit kan ʼn groot dood sterf as dit nie na behore bestuur en gereguleer word nie. Dit is tans net in Namibië en Suid-Afrika waar wildboerdery in privaat besit bedryf word.
 
Van der Linde is dit met Croucamp eens dat regulering van die wildbedryf noodsaaklik is. Hy sê dat ʼn huis sonder reëls nie ʼn huis is nie. Om volhoubaar te kan wees, is dit belangrik dat die bedryf met die ondersteuning van die betrokke owerhede self reëls moet daarstel. Dit is nie uniek aan die wildbedryf nie want dit geld vir enige bedryf. Die permitstelsel ly gebrek aan eenvormigheid en konsekwentheid want elke provinsie het sy eie permitstelsel. Om ‘n omheiningsertifikaat te bekom, kan ‘n uitgerekte proses wees maar dit kan versnel word deur aansoek om sertifisering te doen terwyl die heining gespan word en sodoende ‘n inspeksiedatum vas te stel. Vir groot spesies soos buffels en renosters is daar spesiale vereistes ten opsigte van elektriese bedrading, en sommige provinsies het verskillende standaarde vir kampgroottes. 
 
Van der Linde sê die wildbedryf word nie gekontroleer nie en word oorgereguleer. Om wild te verhandel is invoer- en uitvoerpermitte nodig, hetsy van plaas na plaas of van provinsie na provinsie. Vir internasionale handel is die permitstelsel besonder kompleks. Hy noem as voorbeeld dat hy 14 permitte moet bekom om ʼn koedoe na Amerika uit te voer.
 
Minnaar raai nuweling-wildboere aan om omsigtig te werk te gaan voordat hulle wild aankoop. Dit is raadsaam om self ‘n verkoper se plaas te besoek om eerstehands waar te neem hoe hy met sy wild boer en watter wildsoorte beskikbaar is. Besoeke aan vyf of ses wildplase sal perspektief en insig bring oor hoe en waar dit die beste sal wees om wild te koop.
 
Vorster wys daarop dat daar groot belangsteling onder buitelandse kopers by Suid-Afrikaanse wildveilings is. Croucamp beaam dat 40 persent van die buffels wat verlede jaar van die hand gesit is, aan buitelanders verkoop is. Hy sê daar is spesifieke belangstelling vanuit die buiteland om in die wildbedryf in Suid Afrika te belê. Groter bestendigheid, sekerheid en voorspelbaarheid sal dit makliker maak vir buitelandse kapitaal om die land in te vloei. Met goeie bemarking kan die wildbedryf een van die sektore word waarheen groot investering uit die buiteland kan vloei. Die staat moet ook sy rol vervul om die regulatoriese raamwerk te skep wat investering veilig en bestendig sal maak.
 
Daar is groot potensiaal om die wildbedryf na Suid-Afrika se buurlande uit te brei. Van der Linde meld dat dit inderdaad reeds gebeur. Van die grootste wildboere in Namibië is Suid-Afrikaners, Zimbabwe het heelwat potensiaal en in Zambië is daar reeds begin met die omheining van privaat wildplase. Botswana het baie streng maatreëls maar laat reeds kommersiële wildboerdery binne die landsgrense toe.
 
Odendaal se advies aan voornemende wildboere is om te kyk na beskikbare kapitaal. Senwes fokus merendeels op skaars wildsoorte, die volhoubaarheid van ‘n wildplaas en hoe dit kan inskakel binne die raamwerk van bestaande saai- en beesboerderye waar dit ‘n kleiner oppervlakte sal verg.
 
Oor die kwessie van privaat grondbesit is Croucamp van mening dat die beginsel van privaat besit net sal voortbestaan as die landbousektor verantwoordelik daarmee omgaan en dit vir die regering maklik maak om privaat eienaarskap te erken. Swart Suid-Afrikaners moet oortuig word dat privaat besit in hulle eie belang is. Hoe meer bemagtigingstransaksies op eie inisiatief aangegaan kan word, hoe meer sal dit die beginsel van privaat besit versterk en dit vir die regering moeiliker maak om dit teen te staan. Die jagbedryf bied heelwat ruimte vir ‘n kommersiële suksesverhaal by wyse van bemagtigingstransaksies in ‘n verskeidenheid van besigheidsmodelle.
 
Minnaar waarsku dat kapitaalwinsbelasting vandag een van die grootste risiko’s vir boere inhou. As boere nie na behore daarvoor beplan en voorsiening maak nie, sal kapitaalwinsbelasting onbetaalbaar word en sal die nageslag hulle erfplase verkoop.
Oor die etiek van die jagbedryf wys Van der Linde daarop dat daar wêreldwyd ‘n sterk emosionele verbintenis met wild is. Dit plaas die onus op die wildbedryf om verantwoordelik daarmee om te gaan. Minnaar meld dat wild ‘n proteīnebron is, net soos beeste, skape en hoenders. Om die proteīne op die tafel te kry, moet die dier doodgemaak word.  Wild kan nie slagpale toe geneem word nie, maar moet in die veld geskiet word. Dit is ‘n kwessie van verantwoordelikheid neem vir die etiese wyse waarop die dier geskiet word.
 
Oor die toekoms van die wildbedryf is almal dit eens dat dit groot potensiaal inhou, hoewel die swak wisselkoers van die rand teen die dollar dit moeilik kan maak vir plaaslike boere om aktief daaraan te bly deelneem. Dit is ‘n besigheid net soos enige ander besigheid. Die Suid-Afrikaner se emosionele verbintenis met die veld en inheemse wild is besonder sterk. Van der Linde sê: “Ek kan alles invoer wat ek nodig het in Afrika, maar ek kan nie ʼn springbokkie invoer nie.”
 
Einde
 
Die volledige program kan op YouTube gevolg word:
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
 
Nasie in Gesprek in perspektief
Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.

“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”

Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.

Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 

Nasie in Gesprek Vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.

 






Related Articles