NEWS | Latest news articles

Wintergrane: ʼn hupstoot vir gars

  • 18 September 2022
  • 1808
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nasieingesprek



Tydens die vierde gespreksessie van Nasie In Gesprek by Nampo Kaap, het ʼn paneelbespreking met vooraanstaande kundiges en rolspelers binne die garswaardeketting bymekaar gekom om uitdagings te bespreek, geleenthede te evalueer en vooruitskattings te maak oor markverwante resultate. Hierdie paneel het bestaan uit Manfred Venter (ABInBev), Jose de Kock (Graan SA), dr Dirk Strydom (Graan SA) en Johan Lusse (Overberg Agri).

Uitdagings neem toe

Volgens Jose de Kock het die Suid-Afrikaanse garsbedryf ʼn uitdagende twee seisoene agter die rug.

Die 2019-seisoen was gekenmerk deur droogte, waterbeperkings en gepaardgaande waterkwaliteitsprobleme asook verhoogde stikstofvlakke in die garsproduk. In die daaropvolgende jaar het bo-gemiddelde reën tydens die oestydperk bygedra tot die hoë voorkoms van afkeuringsvlakke (as gevolg van gebarste pitte) en die Covid-19-pandemie die bierwaardeketting tot ʼn totale stilstand gedwing. Die gevolg hiervan is dat die mandaat wat deur ABInBev vir die bedryf gestel is, tydens 2021 afwaarts aangepas moes word omdat die hoeveelheid aangeplante garshektare noemenswaardig afgeneem het.

Met bogenoemde in gedagte, meen De Kock dat die “ekonomie van gars” aansienlik meer uitdagend geword het as gevolg van die verhoogde risiko wat aan die produksie van gars gekoppel word.

Johan Lusse stem, vanuit ʼn opbergingsoogpunt, hiermee saam en noem dat die regulasies rondom die opberging van dié gewas al hoe meer kompleks word. Hy verduidelik dat daar 31 graderingskriteria bestaan om te bepaal of gars aan moutkwaliteit voldoen. Nog ʼn rimpeleffek van dié uitdaging is dat voortdurende investering nodig is in terme van tegnologie en infrastruktuur ten einde die kwaliteit van gars te verseker omdat bergingstoestande ten alle tye ideaal moet wees.

Groter samewerking binne die garswaardeketting

Die paneel was dit eens dat ondanks die uitdagings wat die waardeketting in die gesig staar, daar wel daarin geslaag is om groter samewerking binne die bedryf te bewerkstellig.

Manfred Venter meen die waardeketting het ʼn draaipunt beleef na die aanvanklike onsekerheid as gevolg van die alkoholverbod tydens die Covid-19-pandemie. Hierdie onsekerheid het daartoe gelei dat rolspelers in die industrie bymekaar gekom het, nie net om surplusse weg te werk nie, maar ook om besighede se volhoubaarheid te help verseker. Venter het die versekering gegee dat ABInBev ʼn 100% verbind is tot die plaaslike garsbedryf en het voorts gesê dat groter samewerking tot voordeel van die hele bedryf is. “

Dr Dirk Strydom is ook van mening dat groter samewerking die bedryf kan help stabiliseer, veral in terme van positiewe en negatiewe siklusse. Hy meen daar moet in navorsing belê word en dat kultivarontwikkeling aangemoedig moet word ten einde langtermyn volhoubaarheid te verseker. Dit is ook volgens dr Strydom belangrik dat die garsbedryf voortgaan om tydige en effektiewe besluitneming na te streef en om kommunikasieprosesse te verfyn.






Related Articles