NEWS | Latest news articles

Nasie in Gesprek besoek die Karoo en Port Elizabeth vir ʼn kykie na die skaap- en wolbedrywe

  • 07 February 2017
  • 3313
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nasieingesprek



Episode 4 van Nasie in Gesprek 2017, die land se toonaangewende landbougespreksprogram, bied ʼn insiggewende kykie in die Karoolambedryf sowel as die wolbedryf in Suid-Afrika. Die toneel word geskets wanneer die Vise-Burgemeester van Beaufort Wes, Daleen Slabbert ons meer vertel wat Beaufort Wes so uniek maak. Dan sluit ons aan by Johnny Theunissen, eienaar van die Scheurfontein plaas wat ons vertel waarom Karoolam die beste is. En as jy dit nie geweet het nie, Karoolam is nou ʼn erkende internasionale handelsmerk.

Dinge word bietjie meer werklik wanneer Déan Gouws van Agri-Sentraal Karoo oor die uitdagings gesels om volhoubaar in die Karoo te produseer. “Ons produsente het baie uitgawes met energiekostes die grootste van almal. Maar die groot uitdaging is dat ons produkte teen sowat R60 per kilogram by ons gekoop word en dat dit herverkoop word teen sowat R180 per kilogram, so ons moet na hierdie wanbelans kyk.” ʼn Interessante feit... Het jy geweet dat daar amper 3 miljoen Dorperskape in die Karoo is?

Die plaaslike landboukenner, Redakteur van Landbouweekblad, Chris Burgess, sluit weer by aanbieder Rozanne McKenzie aan om oor die belangrike aspekte van die bedryf te gesels. Rozanne kry Chris aan die gang deur Chris daaraan te herinner dat Suid-Afrikaners van ʼn lekker lamtjoppie oor die kole hou, “so waarom is dit dan so duur?” Skakel dan in by die program om Chris se antwoord hierop te hoor.

Chris deel ook sy denke oor die impak van veediefstal en winsmarges in die bedryf.

Die BKB wolhanteringsaanleg in Port Elizabeth hanteer by verre die meerderheid van die land se wolproduksie, en Nasie in Gesprek word binne die effektiewe en goedgeoliede aanleg toegelaat. Jacobus Le Roux van BKB deel die maatskappy se aktiwiteite om Suid-Afrikaanse wol internasionaal te bemark en praat ook oor ‘n interessante projek onder gehoorgestremdes waarby BKB betrokke is.

“Wat ook interessant is, is dat ons gevind het dat vrouens baie beter is om wol te sorteer want hulle het ʼn sekere aanvoeling vir die produk,” sê Jacobus. “Ons produseer nie die meeste wol in die wêreld nie, maar ons het versekeer van die beste kwaliteit wol ter wêreld,” voeg Jacobus by.

Soos gewoonlik raak Theo Vorster ernstig wanneer hy Dr. Pieter Prinsloo, Voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie, uitnooi om in die warm stoel te sit om dieper te delf in die bedryf wat ʼn totaal van 24 miljoen skape behels.

So indien jy meer oor die totale waardeketting van die skaap- en wolbedrywe tewete wil kom, hoef jy nie verder te kyk as hierdie insiggewende episode van Nasie in Gesprek nie: https://www.youtube.com/watch?v=TmCKWNJPw0Q

 

Nasie in Gesprek – Met trots geborg deur Monsanto, Nedbank en Senwes, in samewerking met Hinterland en NWK. 

Laai die Nasie in Gesprek Toep by die app winkel af en besoek die webtuiste www.nasieingesprek.co.za vir die volledige uitsaaiskedule.






Related Articles