NEWS | Latest news articles

Nasie in Gesprek bespreek die Wildbedryf

  • 10 March 2017
  • 1940
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nasieingesprek



Morkel Erasmus, bekende wild- en natuurfotograaf kry die program aan die gang deur liries te raak oor die feit dat natuurfotografie groei omdat dit as stokperdjie sowel as toerisme-aktiwiteit beoefen word vanweë die verspreiding van kameras en kamerafone. Hy beweer dat Suid-Afrika ʼn gewilde bestemming is omdat ons ʼn wye verskeidenheid wildlewe en landskap het vir die lens om ʼn mooi kiekie te neem.
 
Morkel deel ook sy wenke oor hoe om ʼn top fotograaf te word en verduidelik die belangrikheid daarvan om op die regte tydstip op die regte plek te wees... soms vir dae aaneen net om die regte foto te neem.
 
Piet Warren, die eienaar van ʼn Swartwitpens Park plaas naby Gravelotte is ʼn huishoudelike naam in dié bedryf, en hy deel sy insigte oor hoekom die wildbedryf so vinnig groei. Piet praat dan ook van nuwe gene wat by huidige kuddes gevoeg word en hy het ook sy eie sienings oor hoe om bokke se horings te verleng.   
 
“Ons het nagenoeg 9 400 professionele jagters ʼn jaar wat die bedryf diens,” sê Piet.
 
Het jy geweet dat daar 10 000 wildsplase in privaatbesit is wat omtrent 12 miljoen wild behels!
 
Soos gewoonlik beklee landboukenner en Redakteur van Landbouweekblad, Chris Burgess die warm stoel oorkant aanbieder van die program Rozanne McKenzie, wat hom vra of alle wildboere miljoenêrs is. Skakel in by die program en leer hoekom iemand miljoene rande op ʼn spesifieke wildspesie sal spandeer. Chris het dan ook ʼn idee oor hoe die wildbedryf bedreigde spesies soos die renoster kan red.
 
Senwes voorsitter Danie Minnaar maak ook ʼn draai in die ateljee om die aspek so te sê by die horings te pak saam met anker van die program, Theo Vorster en verduidelik wat wild nou eintlik waarde gee. Danie, wat ook ʼn wildboer is vertel meer oor die bestuur van wild asook die siklusse waardeur die wildbedryf gaan insluitend die uitdagings wat elke wildboer in die gesig staar.
“Daar is twee primêre markte in die wildbedryf,” sê Danie. “Die jagmark en die genetiese mark.”
 
John Hume is ook die eienaar van die grootste renosterbevolking ter wêreld en hy is ʼn groot voorstaander van die bewaring van renosters. Hy praat baie passievol oor sy siening oor hoe om die renoster te red. Hy gebruik die voorbeeld van die vicuna van Suid-Amerika, ʼn wildspesie wat verwant is aan die Llama, wie se getalle 40 jaar gelede tot 5 000 gekrimp en nou het die getalle tot meer as 400 000 gestyg het. Hierdie bewaringsplan kan ook op renosters toegepas word.
 
As jy dalk die program misgeloop het, kan jy dit aanlyn kyk:
 
 
Nasie in Gesprek – Met trots geborg deur Monsanto, Nedbank en Senwes, in samewerking met Hinterland, NWK en AFGRI.  





Related Articles